Update
OUDTSHOORN NUUS - Die teleurstelling dat die 41ste Freda Barnard-swemgala nie in Oudtshoorn plaasgevind het nie, is nog vars op Oudtshoorniete se lippe. Die besluit dat dié swemgala in George (7 tot 9 Oktober) gehou is, was volgens Raymond Pollicutte, algemene bestuurder van Eden Aquatics, onvermydelik.
Wat beplan die Oudtshoorn-munisipaliteit
Munisipale werkers het die afgelope twee weke flink gewerk ter voorbereiding vir die Eden-tweekamp-byeenkoms wat op Dinsdag 18 Oktober by die NA Smit-swembad plaasgevind het. Dinsdag was daar nog 'n gewemel van werkers om die swembad in tip-top kondisie te kry. Swemmers het teen ongeveer 18:15 by die swembad opgedaag.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit in samewerking met interne en eksterne aandeelhouers het verseker dat toerusting, waar nodig was, vervang word alvorens die swembad heropen is. Die swembad is onlangs geseël, geverf en vol water getap.
Die pompe se filtersand is vervang, skoongemaak en die water is gesuiwer om kwaliteit te verseker. Volgens Arelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is 'n omvattende swembad-onderhoudsplan uitgelê wat noukeurig gevolg en uitgevoer gaan word.
Opsigters is ook by al ses munisipale swembaddens aangestel en sal die onderhoudsplan stelselmatig by die ander vyf munisipale-swembaddens geïmplementeer word.
Vrywilligers van Oudtshoorn het ook saamgespan en die ablusiegeriewe is geverf en opgeknap.
Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn, het gesê dat hy al reeds in kontak was met die beheerliggaam van Eden-swem en dat hy alles in sy vermoë sal doen om te verseker dat die Freda Barnard-swemgala in 2023, wéér in Oudtshoorn sal plaasvind.
Eden Aquatics
Pollicutte vertel dat dit nie 'n besluit was wat ligtelik opgeneem is om die Freda Barnard-swemgala te skuif nie.
"Ons het vele versoeke aan Oudtshoorn-munisipaliteit gerig om ten minste te sorg dat die water se kwaliteit op standaard is wanneer ons die swemgala daar aanbied. Dit was asof hulle net nie omgegee het nie, ons het weke voor die tyd die swembad besoek en dan gesien dat die water vuil is en mooi gevra dat dit reg is wanneer die deelnemers opdaag.
"Ons besluit om dit te skuif het gekom toe verskeie deelnemers geweier het om weer deel te wees van dié swemgala indien ons dit weer in Oudtshoorn aanbied. Hierdie deelnemers spandeer duisende rande en dan is die swemgeriewe nie op standaard nie," het Pollicutte gesê.
Volgens Pollicutte het talle gastehuise van Oudtshoorn hom al genader en is hulle woedend oor die feit dat Eden Aquatics die swemgala geskuif het omdat hulle broodnodige inkomste in die proses verloor.
"Ons het omtrent 670 deelnemers die naweek in George gehad. Jy kan dink dat elke deelnemer dalk 'n ouer of twee, broer en suster saamneem vir die naweek.
"Almal van die deelnemers moet blyplek kry. Dit beloop duisende rande, net aan akkommodasie alleenlik," het Pollicutte benadruk.
Op 'n vraag of die swemgala moontlik volgende jaar terug kan skuif na Oudtshoorn sê Pollicutte dat dit op hierdie stadium lyk asof dit vir 2023 in George sal plaasvind omdat die geriewe uitstekend is.
Daar is darem 'n ligpunt in die tonnel wanneer hy byvoeg: "Indien Oudtshoorn-munisipaliteit die geriewe op standaard bring, kan dit oorweeg word om die gala terug te skuif. Daar is definitief hoop, ons het nie vir Oudtshoorn afgeskryf nie," het hy verseker.
Volgens Pollicutte sal die Oudtshoorn-munisipaliteit baie geld moet spandeer om alles op standaard te bring. Hy vertel dat die elektroniese aanraakpanele nie meer op standaard is nie en dit ongeveer 10 jaar gelede deur die Kango-grotte geskenk is.
"Daar is 'n rukkie gelede by die swembad-gronde ingebreek. Die kabels van die aanraakpanele is afgeknip. Dit is onlangs herstel, maar die panele sal vervang moet word, dis verouderd. Die wegspringblokke is ook nie op standaard nie," het hy bygevoeg.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'