Update
OUDTSHOORN NUUS - “Ek betuig opregte dank aan elke liewe persoon wat tot my redding gekom het. Elkeen was ‘n engel wat deur die Here gestuur is om my te help en vir julle sê ek baie dankie.”
Dit was vanoggend die woorde van Berné Venter aan paramedici, polisielede, verkeersbeamptes, lede van die publiek en boere wat hom op 1 Februarie te hulp gesnel het na ‘n ernstige motorongeluk naby De Kombuis op die grottepad.
Venter se Colt-bakkie het die pad op ‘n skerp draai verlaat en oor ‘n afgrond gestort voordat dit oorkant ‘n rivier te lande gekom het.
Hy het veelvuldige beserings aan sy rug, enkel, bobeen en sleutelbeen opgedoen en was ‘n tyd lank bewusteloos voordat iemand ure na die ongeluk plaasgevind het, die voertuig tussen riete opgemerk het.
Venter het vanoggend met die Oudtshoorn Courant kontak gemaak en gevra of hy by wyse van ‘n berig sy dankbaarheid teenoor almal wat hom gehelp het kan betuig.
“Ek weet glad nie wat gebeur het nie, ek het hard gewerk voordat ek die pad gevat het en ek vermoed ek het aan die slaap geraak.”
Oor sy oorlewing van die ernstige ongeluk sê Venter, “Ek glo nie aan geluk nie, ek glo die Here met my gedra”.
Hy was na sy broer se plaas naby die Swartberge onderweg toe die ongeluk gebeur het. Hy sterk tans op die plaas aan nadat hy meer as twee weke in die hospitaal was.
Na meer as ‘n maand in ‘n rolstoel begin hy nou treetjie vir treetjie stap. Hy het ysterpenne in sy bobeen en sleutelbeen, sy regter enkel was op verskeie plekke gebreek en ‘n rugwerwel is ook deur die impak gebreek en hy sal waarskynlik nog ‘n lang ruk moet herstel voordat hy weer met sy normale werk as ‘n ambagsman kan voortgaan.
5608 Nooddienswerkers naby die plek waar Venter se bakkie geland het. ‘n Aantal mense staan bo langs die pad waar die bakkie deur die lug begin trek het.
Foto’s: Hannes Visser
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'