Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Nuwe erfenis staproete in die Gamkaberg Natuurreservaat tussen Oudtshoorn en Calitzdorp, is verlede Vrydag amptelik deur die Wes-Kaapse minister van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, bekendgestel.
Volgens Marietjie Engelbrecht, senior bemarkingsbestuurder van CapeNature is die doel van die nuwe staproete om die publiek bewus te maak van die streek se kulturele erfenis.
Daar is sowat 40 rotstekeningsterreine in die beheerde gebied van die Gamkaberg Natuurreservaat wat na skatting tussen 1 500 en 2 000 jaar oud is.
Verskeie verteenwoordigers en hoofde van die Khoi-gemeenskap was ook genooi om die verrigtinge wat oor twee dae gestrek het, by te woon. Volgens dr. Razeena Omar, hoof- uitvoerende beampte van CapeNature, was die rotstekeninge een van die redes waarom hierdie gedeelte van die reservaat nie voorheen oop was vir die publiek nie.
"Elke terrein is van spirituele waarde en reflekteer die leefstyl en stories van die Khoi en die San-mense. Volgens haar is hierdie erfenisroete belangrik om die kultuurerfenis van die Khoi en die San te erken en aan mense bekend te stel.
Bredell het gesê dit is belangrik dat mense belang het en belê in hulle natuurlike omgewing.
"Daarom moet ons plekke soos Gamkaberg meer aantreklik en toeganklik vir toeriste maak. Toeriste bring geld in wat weer in die gemeenskap en in bewaring teruggeploeg kan word."
Die Gamkaberg Natuurreservaat is in 1974 gevestig en huisves die bedreigde Kaapse bergkwagga. Die reservaat is ongeveer 20 km buite Oudtshoorn op die sementpad na Calitzdorp geleë en beskik oor oornaggeriewe sowel as kampeerplekke.
Lees 'n vorige artikel hier: Nuwe staproete by Gamkaberg
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'