Danie du Plessis, mede-eienaar van die bekende jamstreet het verlede jaar reeds met ABSA begin onderhandel om die unieke kunswerk, wat bestaan uit 20 houtfigure op ysterlere, by jamstreet te laat oprig. ABSA het aanvanklik beplan om die kunswerk in Johannesburg op te rig, maar het besluit dat die vlaktes buite Oudtshoorn ‘n meer geskikte tuiste vir die twintig lere-menere sal wees en het die kunstenaar Strijdom van der Merwe opdrag gegee om die kunswerk op ‘n landery by jamstreet op te rig. Dit het van der Merwe en drie helpers hierdie week meer as ‘n dag se swoeg geneem om die reuse werke met lang ysterpenne in die grond te anker.
Die kunswerk is, in opdrag van ABSA, gemaak vir die 2009 Cape Epic fietstoer waarna dit as deel van die 2009 KKNK langs die Ca-litzdorp-pad opgerig is.
Van der Merwe verduidelik dat die beelde die mens se strewe na groei uitbeeld. In sy eie woorde: "To live a happy and successful life you always have to reach and stretch for the unknown - you have to push yourself beyond your own expectations. Reach for that which you have never thought possible and never stop dreaming."
Die meeste van Strijdom van der Merwe se kuns-werke is tydelike landskapskuns en leef net op foto’s voort. Sy kunswerke het al regoor die wêreld gepryk en hy is reeds besig met die beplanning van twee groot kunswerke in die buiteland.
In 2012 gaan hy ‘n landskapkunswerk in Kenia oprig op die wildsplaas van Jochen Zeits, uitvoerende voorsitter van die wêreldwye PUMA handelsmerk. Van der Merwe wil met die kunswerk die migrasie van diere, mense en denke uitbeeld en het sy inspirasie vir die beplande kunswerk gekry by die "sailing stones of Death Valley", ‘n natuurverskynsel waar klippe op ‘n reuse pan in Amerika onverklaarbaar op hul eie "rondloop" en lang sleepmerke in die grond laat.
In 2013 bevind hy homself in Amerika waar hy ‘n reuse skepping moet oprig voor die Smithsonian Institute in Washington.
Oudtshoorniete en besoekers kan gerus ‘n draai maak by jamstreet buite Oudtshoorn om "Reaching for the sky" te besigtig.
Strijdom van der Merwe, regs, saam met helpers besig om een van die beelde op te rig.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS