OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n verkeersbeampte van die Oudtshoorn-munisipaliteit, wat van korrupsie aangekla word is verlede week na die kruisondervraging van die beskuldigde vir die getuienis van 'n verdedigingsgetuie tot 14 Julie uitgestel.
Marshall Wagenaar staan tereg op twee aanklagte van korrupsie na hy glo in April 2017 onderskeidelik R2 500 en R3 500 van twee broers, Johannes en Nicholas Mulder, ontvang het vir die reël van vroeëre datums om hul swaarmotorvoertuiglisensies te bekom.
Volgens hom het hy nie 'n sent van Nicholas Mulder gekry nie, maar Johannes het R6 500 aan hom oorhandig om hom te help.
Dit het egter nie gerealiseer nie en Mulder het sy geld teruggekry.
Wagenaar sê hy staan in die hof vir dinge wat hy nie gedoen het nie.
"Ek is 'n gemeenskapsmens en help mense waar ek kan. Ek wil eerlik wees met die hof," het Wagenaar op 'n vraag van die staatsaanklaer, Willem Vister, geantwoord.
Vister het dit aan Wagenaar gestel dat hy nie eerlik is met die hof nie en sy weergawe voortdurend aanpas. Sy getuienis in die hof verskil hemelsbreed van sy verklaring aan die polisie.
Die saak word deur streeklanddros Ntsoki Moni aangehoor en is op versoek van die verdediging vir die getuienis van die eienaar van 'n bestuurskool uitgestel tot 14 Julie.
Wagenaar is uit op waarskuwing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’