OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Nelsrivier naby De Rust, wat 'n sesjarige kind met 'n klip raakgegooi het, is in die Oudtshoorn-landdroshof 'n opgeskorte vonnis opgelê en onder huisarres geplaas.
"Dit is onaanvaarbaar dat kinders nie meer met vryheid kan speel nie," het streeklanddros Da-niel Boks tydens die vonnisoplegging gesê.
Hendrik Robertson (37) is aan aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind deurdat hy die kind op Oujaarsaand 2016 raakgegooi het toe hy kwaad geword het vir kinders wat klappers geskiet het.
Streeklanddros Daniel Boks het in ag geneem dat Robertson skuldig gepleit en die kind se ouers om verskoning gevra het.
Hy het ook nie die hof se tyd gemors nie en daarom sal die minimum vonnis van tien jaar gevangenisstraf vir die misdryf skokkend onvanpas wees het die landdros gesê.
Robertson is tot ses jaar tronkstraf gevonnis, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, en 24 maande korrektiewe toesig ingevolge Artikel 276 (1) (h) wat behels huisarres vir 24 uur per dag behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Hy moet ook sestien uur per maand gratis gemeenskapsdiens verrig en hom weerhou van die misbruik van alkohol en dwelms.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'