KLAARSTROOM NUUS - Talle rolprente is al in die dorpie Klaarstroom verfilm. Oudtshoorn Courant het Dinsdag die dorp besoek om te gaan kyk waaroor die nuutste rolprent gaan wat tans daar verfilm word.
Ontmoeting met David Moore en Koos Roets
David Moore, regisseur en Koos Roets, kinematograaf, werk tans saam aan die nuwe produksie Drunks have whiter teeth. Moore vertel dat hy 30 jaar gelede aan die storie begin skryf het en toe al die titel vir dié storie gekies het.
"Persone wat drink borsel hulle tande meer in 'n poging om die reuk van drank in hulle asem te verdoesel."
Die storie handel oor vier vriende wat saam in die Namibiese grensoorlog geveg het en weer na jare na die presiese punt waar 'n landmyn afgegaan het en hulle lewens onherroeplik verander het, terugkeer. Hoe nader die vriende aan die presiese omgewing kom - word emosies en verhoudings ontrafel - chaos ervaar - saam met die komiese histerie van die emosies.
Moore vertel dat 95% van die storie, die waarheid is - met sy eie ervarings - oor mense wat hy tydens die gebeure op die grens en in die hospitaal ontmoet het.
"Dit is werklik vir my moeilik om oor die gebeure te gesels. Die rolprent gaan eksentriek wees, klein bietjie links, in en uit geluk en hartseer oomblikke."
Moore en Roets het 30 jaar gelede met die verfilming van Paljas, in Klaarstroom, ontmoet en Moore wou nog altyd saam met Roets gewerk het.
Hulle beplan om in die volgende vyf weke klaar te maak met die verfilming van die rolprent wat in twee lande en oor 6 000 km geskiet gaan word en beplan die vrystelling daarvan in Maart, volgende jaar.
Ontmoeting met Tobie Cronjé, een van die karakters in die rolprent
Hy het geen bekendstelling nodig nie en het al vir dekades, in vele huishoudings op die kassie verskyn. Tobie is sinoniem met die film- en verhoogbedryf.
Cronjé het die afgelope drie dae in Klaarstroom spandeer, om weer na 45 jaar op Klaarstroom aan 'n nuwe produksie saam met Roets te werk. Die twee het in 1977 saam aan die rolprent Kootjie Emmer gewerk. Hy het die hoofrol van 'n karakter wat passievol is oor 'n dorp se vooruitgang, vertolk.
In die produksie waaraan Cronjé onlangs in Klaarstroom gewerk het, vertolk hy die rol van 'n winkelier wie se seun in die Namibiese grensoorlog gesneuwel het.
Vir Cronjé het dié dorp baie verander, 'n meer moderne gevoel, en het hy na die verfilming van Kootjie Emmer 'n paar keer weer daar deurgery, maar nooit oorgeslaap nie.
Hierdie was die eerste maal na 45 jaar wat hy weer die dorpie besoek het.
Cronjé se ouers was albei musikaal en het in die Johannesburgse Simfonie-orkes gespeel. Na skool het hy vir twee jaar in 'n kantoor gewerk en musiekklasse gegee.
Hy het daarna besluit om BMus te studeer, maar nadat 'n vriend hom genooi het om na die verhoogstuk Jack and the turtle doves te gaan kyk, en hy besef het hoe jy die gehoor kan kul, het hy verlief geraak op die bedryf en net daar besluit om sy rigting van studie te verander.
Wanneer jy hom vra wat sy gunsteling produksie is waaraan hy al gewerk het, sê hy, "die een waaraan ek nou werk", en voeg by dat sy hoogtepunt die verhoogstuk, I love my wife, was. In hierdie bedryf moes hy leer dans, sing en 'n Amerikaanse aksent aanleer.
Wanneer jy Cronjé groet, voel dit soos 'n jare lange vriend wat jy groet – tot ons mekaar weer sien op die kassie, Cronjé.
David Moore, Koos Roets en Waldemar Schultz, een van die akteurs wat die rol van een van die vier vriende vertolk.
'We bring you the latest Klaarstroom, Klein Karoo news'