Die projek is van stapel gestuur aangesien 'n groot aantal vroeggebore babas maandeliks by die hospitaal gebore word, en vorm ook deel van die hospitaal se Moeder-en-Baba-vriendelike Inisiatief (MBVI) – 'n status wat die hospitaal reeds in 2007 verwerf het.
Gedurende April is daar agt vroeggebore babas gebore. KMS is die vroeë, langdurige en deurlopende vel-tot-vel kontak tussen 'n ma en haar baba. Dit verbeter die baba se hartklop en maak asemhaling meer stabiel, voorkom minder ernstige infeksies, babas is vroeër uit broeikaste en babas vorm 'n beter band met hul ouers.
Die kangaroe-draprojek behels dat elke nuwe mamma wat 'n klein- of vroeggebore baba het een van die hempies kry om te gebruik of teen 'n minimale fooi huis toe te neem. Die hemp wat toevou voor, het 'n ekstra rekband aan die binnekant en word op 'n spesiale manier gebind om te sorg dat baba veilig en knus op mamma se bors lê.
Mammas lyk heel oulik en kan vrylik hul arms gebruik omdat baba veilig vasgebind word.
Oudtshoorn-hospitaal het ook sedert die begin van 2014 hul eie borsmelkbank. Skenker-borsmelk word aan vroeggebore babas voorsien indien hul eie moeders nie voldoende borsmelk het nie. Die kraamsaal van Oudtshoorn-hospitaal wil graag van die geleentheid gebruik maak om alle donateurs te bedank vir hul betrokkenheid by moeders met vroeggebore babas, asook vir die volgende vrywillige skenkings: borsmelk, kangaroe-hempies, mussies, sokkies, kombersies, toiletware of enige ander produkte.

Kraamsaalpersoneel demonstreer die gebruik van die kangaroe-hempies met poppe. Van links is: Joyce Modikwe, Mona Carolus, Ronel Cornelissen, Leah Richards, Sophia October, Karen April, Elizabeth Opperman, Cristina van Aswegen, Elana Marais, Dina Malan en Patricia April.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'