'n Geskokte Koos van der Walt het Dinsdagoggend by die wrak van 'n Toyota Fortuner wat in sy erf beland het, vertel dat hy enkele sekondes voordat die voertuig deur die heining gebars het op pad was om die hek oop te maak. "Ek het uitgestap om die hek oop te maak toe ek skielik onthou ek het nie my pille gedrink nie. My vrou het solank vir my 'n glas water gaan haal toe ons die verskriklike slag buite hoor."
Hy vertel hy en sy vrou het uitgegaan en gesien dat 'n wit Fortuner dwarsdeur die palissade-heining gery het en onder 'n afdak voor die motorhuis tot stilstand gekom het. Die bestuurder was nog in die voertuig. "Ons het haar uitgehelp en in die huis in gevat. As ek sekondes vroeër by die hek gestaan het was die kar bo-oor my. Dis net genade dat ek terug is in die huis."
Die bestuurder van die Fortuner, Ronel Brits, het beheer oor die voertuig verloor nadat sy sowat 20 meter voor die huis met 'n bakkie wat oor 'n stopstraat gery het gebots het. Die slag van die botsing het die Fortuner se voorkant en linkerwiel beskadig en sy kon nie die voertuig in die pad hou nie. Dit is deur die Van der Walts se heining waarna dit twee pilare van 'n afdak omgestamp het voordat dit teen 'n groot struik tot stilstand gekom het.
Sover vasgestel kon word is Brits nie ernstig beseer nie, maar haar man Jan, wat enkele minute later op die toneel was, het gesê dat hy haar veiligheidshalwe dokter toe gaan neem. Hy het gesê die Fortuner is bykans splinternuut en het minder as 10 000 km afgelê. "Wat my baie bekommer is die feit dat die kar se lugsakke nie gewerk het nie. My vrou het eers die bakkie, toe die heining en toe die afdak getref en nie een van die slae het die lugsakke laat ontplooi nie. Sy is baie gelukkig dat sy haar veiligheidsgordel aangehad het."
Die botsing tussen die Fortuner en die afleweringsvoertuig het by die kruising van Buitekant- en Pleinstraat plaasgevind. Volgens 'n lid van die nooddienste wat op die toneel was het die bestuurder van die bakkie, wat met Pleinstraat langs gery het, gesê hy het by die stopstraat stilgehou, maar toe 'n entjie vorentoe gery om beter te sien toe hy deur die aankomende Fortuner getref is. Die insittendes van die bakkie is ook nie beseer nie.
Die eienaar van 'n insleepdiens bekyk die skade aan die fortuner en die eiendom na 'n botsing Dinsdsagoggend in Buitekantstraat. Foto's: Hannes Visser.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'