Update
OUDTSHOORN NUUS - Een van Oudtshoorn se drie hooftoegangs-roetes was Woensdag en Donderdag om veiligheidsredes, en as gevolg van versperrings gesluit.
Inwoners van Rose Valley, wat verlede week die pad vir ongeveer vier ure versper het, het Woensdag woedend gereageer toe 'n beloofde vergadering oor werksgeleenthede nie aan hulle verwagtinge voldoen het nie.
Die inwoners beweer daar is onregmatig-hede met die aanstelling van kontrakwerkers met die herbouing van die N12 tussen Oudtshoorn en De Rust. Hulle is verlede week vreedsaam uitmekaar nadat 'n vergadering vir hierdie week belê is waar hulle antwoorde op hulle griewe sou kry.
Die vergadering in die Toekomsrus-gemeenskapsaal het egter in chaos ontaard toe Hannes Basson, 'n afgevaardigde van die provinsie, die mense meegedeel het dat daar slegs vyf werksgeleenthede is en nie 33 soos wat hulle gedink het nie. Hy het ook gesê dat die vyf tydelike poste reeds gevul is.
Die inwoners het uit die saal na die N12 gestorm en begin om die pad te versper. Polisie het egter vinnig tussenbeide getree en gekeer dat die pad afgesper word. Gemoedere het die heel Woensdag opgevlam met sporadiese voorvalle tussen die gemeenskap en die polisie en die pad is gesluit.
In een van die voorvalle is 'n 42-jarige man met rubberkoeëls in die maag gewond en hospitaal toe geneem. Volgens omstanders het die man en 'n polisiebeampte 'n woordewisseling gehad.
"Hy wou die gun wat die polisieman na hom gerig het wegstamp en toe skiet die polisieman hom."
Die Oudtshoorn Courant het Woensdag-aand verneem dat die man vir 48 uur vir observasie in die hospitaal gehou word.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê die man is vir openbare geweld in hegtenis geneem.
'n Polisieman verwyder een van die bande wat aan die brand gesteek is uit die pad. INLAS: Inwoners van Rose Valley wat Woensdag die pad begin afsper het.
Foto's: Liezl van Niekerk
Die N12 was die grootste deel van Woensdag en Woensdagnag gesluit. Die onluste het gisteroggend teen 06:00 weer begin en die pad het gesluit gebly.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is die situasie gisteroggend tydens 'n spesiale raadsvergadering bespreek. 'n Komitee sou saamgeroep word om met die inwoners te gaan onderhandel.
Honderde voertuie wat tussen De Rust en Oudtshoorn gereis het moes van 'n grondpad oor Stolsvlakte gebruik maak om hulle bestemmings te bereik. Teen saktyd om 13:00 gistermiddag was die pad steeds gesluit en die situasie plofbaar.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'