OUDTSHOORN NUUS - Die inisiatief van Laerskool Laurus om 'n digbundel met kinders se gedigte te publiseer het verlede Woensdagaand met 'n bekendstelling gestalte gekry.
Leerders van skole in die Oudtshoorn-omgewing is reeds twee maande gelede genooi om gedigte met die tema, Deur die oë van 'n kind, in te stuur.
'n Aantal gekeurde gedigte is in die bundel opgeneem en kunswerke van Laurus-leerders verleen kleur en sprankel aan die verse.
Die bundel is tydens 'n geselligheid by die nuwe Eden-sentrum in Draaistraat aangebied.
Die perseel en geboue waar daar voorheen 'n kleuterskool en 'n privaat laerskool was, word tans in 'n kultuursentrum omskep.
Die bekende sanger en Oudtshoorniet, Jakkie Louw, was die gaskunstenaar.
Hy het sy vertoning begin met die lied, Deur die oë van 'n kind, wat deur plaaslike musikant Willdrew Maya, geskryf en getoonset is. Die woorde van die lied sowel as 'n skanderingskode waarmee na die lied geluister kan word, is ook in die bundel opgeneem.
Die bundel is teen R65 by Laerskool Laurus beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'