OUDTSHOORN NUUS - Alle leerders van gr.1 tot gr.7 in die Oudtshoorn-omgewing word genooi om gedigte vir 'n digbundel in te skryf.
Die digbundel, Deur die oë van 'n kind, is die inisiatief van Laerskool Laurus, maar is oop vir alle laerskole.
"Ons is in 'n tyd waar kreatiewe kunste broodnodig is om ons vlam van hoop aan die brand te hou. Die doel van hierdie digbundel is om vir die kinders van Oudtshoorn 'n geleentheid te gee om vir ons deur middel van poësie te vertel hoe hulle na die wêreld en sy verskeie aspekte kyk. Ons daag leerders uit om ons te inspireer en te motiveer vir 'n toekoms van hoop," sê Franz Detter, een van die leerkragte by Laurus wat deel is van die projek.
Inskrywings kan vanaf hierdie week tot 21 Mei om 14:00 ingedien word. Inskrywingsvorms is digitaal beskikbaar op die Laerskool Laurus Facebook-blad sowel as in hardekopie by die skool.
Alle gedigte word deur 'n onafhanklike paneel gekeur en die leerders wie se gedigte gekies word, sal die geleentheid kry om 'n slypskool op 29 Mei, onder leiding van Hannes Visser, by te woon.
Gedigte kan in Afrikaans en Engels aangebied word. Alle voorwaardes en vereistes, soos byvoorbeeld die lengte van gedigte, is op die inskrywingsvorm beskikbaar. Gedigte moet die oorspronklike en eie werk van die leerder wees.
Die komitee wat verantwoordelik is vir die digkunsprojek vir laerskoolleerders is, voor van links: Marthiné Koch, Danelle Potgieter, Willo Maya en Marlize Jansen van Vuuren. Agter, van links is: Moné Joubert, Susan Buhr, Franz Detter, Ronelle Huysamen (skoolhoof), Isabella Rossouw en Linda Marques.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'