OUDTSHOORN NUUS - Fopnuus kan net oorleef as die leser of ontvanger daarvan dit voortsit en 'n eie lewe daaraan gee sonder om die oorsprong en juistheid daarvan vas te stel.
Dit word geskep wanneer inligting aangestuur of oorvertel word waaroor daar nie absolute sekerheid is nie, en dit dan al hoe driftiger as die waarheid aangebied word.
So het Hannes Visser, redakteur van Oudtshoorn Courant, gesê in sy aanbieding oor dié verskynsel tydens die jaarafsluitingsgeleentheid van die Prins Albertse Landbouvereniging verlede week. "Gaan soek jy egter na die bron van so 'n verdagte stukkie inligting, is dit dikwels onopspoorbaar."
Visser het aan die hand van onlangse voorbeelde sy standpunt geïllustreer: Die "dood" van 'n Oudtshoorn-Covid-19-pasiënt (wat toe nooit gesterf het nie), die afbrand van voerskure van 'n boer buite Oudtshoorn ('n gebeurtenis waartydens 'n politikus waninligting oor "gebrekkige" polisie-optrede as deel van 'n amptelike verklaring uitgestuur het) en die onlangse Senekal-onrus waarna 'n koerant slegs 'n brokkie onbenullige inligting as sensasienuus op lamppaalplakkate aangebring het.
Ter illustrasie het Visser 'n selfgeskrewe WhatsApp aan die gehoor voorgelees, waarin boere in die Sentraal-Karoo "gewaarsku" word oor die moontlikheid dat hul grond deur die regering geteiken word vir onteiening.
"Ek het hierdie boodskap self geskryf om te skok. Sou ek dit selfs net as 'n grap aanstuur, word dit kort voor lank as die waarheid aanvaar. Iewers sit daar altyd 'n ou wat 'n sinnelose ding op Facebook of op WhatsApp sê … en dit dan aanstuur."
Fopnuus is dikwels gebaseer op 'n stukkie van die waarheid, het hy gesê. "Dis waarheid wat verdraai word. Dis egter nie net altyd feite wat verdraai word nie, maar gebeur ook wanneer 'n skewe of onregverdige persepsie oor iets of iemand of 'n gebeurtenis geskep word. Hoe meer dikwels dit herhaal word, hoe geloofwaardiger begin dit klink."
"Die probleem is dat mense só oorlaai word met nuus en inligting, dat hulle dikwels vergeet wat die waarheid is en nie méér moeite doen om die akkuraatheid vas te stel nie."
Elkeen van ons wat van sosiale media of WhatsApp-boodskappe gebruik maak, wat 'n onjuiste verklaring sien of 'n skeefgetrekte nuusberig lees, het 'n verantwoordelikheid, volgens hom.
"En daardie verantwoordelikheid is om dié vals nuusstroom stop te sit of dit om te keer, die bron te soek en op die waarheid aan te dring."
Onjuiste feite, verdraaiings en wanpersepsies stop dus nêrens anders nie as by jóú, het Visser gesê.
"Ons kan nie altyd die blaam op iemand anders plaas nie. Net jý kan 'n skinderstorie, oftewel fopnuus, nek omdraai."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'