PRINS ALBERT NUUS - Die provinsiale Mondelinge Geskiedenis-inisiatief van die Wes-Kaapse departement sport en kultuursake het verlede week in Prins Albert begin.
Die projek, om dorpe van oor die hele provinsie te betrek sodat inwoners hul belewenisse met mekaar kan deel, is deur die Wes-Kaapse minister van sport en kultuursake, Anroux Marais, bekendgestel.
Die plaaslike biblioteekdiens, onder leiding van Reinie Smit en haar span, het die byeenkoms aangebied.
Talle inwoners van die omgewing het óf deur middel van ’n video-opname, óf deur optrede by die geleentheid, ’n stukkie van hul lewe, verlede, familie en lewensomstandighede in Prins Albert, Leeu-Gamka en Klaarstroom gedeel met mede-dorpenaars, sowel as met Marais en haar span. Die vooraf opgeneemde video is nou ook in die plaaslike biblioteek beskikbaar. Dié inisiatief gaan in alle Wes-Kaapse dorpe aan die gang gesit word.
“Elke storie is kosbaar, elke storie maak saak,” het Vanessa Botha, programaanbieder gesê. “Ons is dankbaar dat Marais die projek hier bekendstel, want ons weet ons dorp lê haar na aan die hart.”
Volgens Das Olivier, ’n inwoner van Prins Albert, “Bring stories mense bymekaar. Wat is lekkerder as stories om ’n vuur, met ’n bietjie wingerdstok daarby? Die stories van dié kontrei is so lekker. Ons kan stry soos ons wil, Prins Albert bly darem ’n damn lekker plek.”
Jakoba Visagie, onderwyseres en gemeenskapsleier van Noordeinde, het hulde gebring aan haar ouers, Baba en Hekkie Lackay. “Mamma was my rolmodel. Ek wou altyd so graag haar wit vel gehad het, haar reguit hare, haar mooi neus. Maar haar grootste nalatenskap was dat sy ons kinders geleer het om nooit te haat nie, nooit bitter te wees nie, selfs nadat ons uit ons huis in Rooikamp (in die bodorp van Prins Albert) geskop is en Noordeinde toe gestuur is, waar ons nie ’n huis gehad het nie en ons op die sypaadjie voor my oupa en ouma se huis moes uitkamp. Ons het dit tóé nie ‘plak’ genoem nie. Dit was die dae voor sinkplate en pale. My pa het vir ons vier dogters en vir hom en my ma ’n matras onder ’n tafel gesit – dan het ons ses snags daar geslaap. Nooit was ons bitter nie, nooit het ons gekla nie. Dit was selfs soms vir my lekker, dié blyery.”
Sy het net mooi herinneringe aan haar lewe in Prins Albert, het Visagie vertel.
Visagie het vertel hul nuwe blyplek, skielik ver van alles, het gemaak dat hulle kinders bedags sowat drie kilometer skool toe moes loop, sonder skoene en sonder langbroeke.
“Vir meisies was langbroeke in daardie dae uit die bose, en skoene het ek eers gekry toe ek in standerd sewe was.”
Daar was baie witmense wat ewe ongelukkig as haar ouers was oor die apartheidsregering se groepsgebiedewette, het sy gesê.
“En Mamma het ons van dié mense vertel. Almal het my ma ‘Ant Baba Lackay’ genoem. Sy was in die dorp as ’n ‘ystervrou’ bekend, die ‘Margaret Thatcher’ van Prins Albert. Ek bring hulde aan haar, en dis aan háár te danke dat ek is wie ek is.”
Die DA-raadslid Sydney Koonthea het die provinsiale regering bedank vir wat hulle vir Prins Albert beteken, “om die geskiedenis van ons mense vas te lê”.
Volgens Marais “is Prins Albert ’n juweel van ’n dorp. Dis vir my departement belangrik om almal se stories te hoor en te bewaar. Daarom besoek ons die hele Wes-Kaap om mense se verhale vas te vang. Ons moet weet waar ons vandaan kom. Die belangrik om mekaar te aanvaar en mekaar, deur stories, te leer ken en verstaan. Stories het ook ’n helende uitwerking op ’n gemeenskap, en hierdie stories sal biblioteke en museums bewaar word.”
Die digter Daniel Hugo het enkele van sy Karoo-gedigte voorgelees wat hy tydens sy verblyf van agt jaar hier geskryf het, en die sangeres Madeleine Barnard een van haar eie liedere gesing wat sy ter ere van Outa Lappies, oftewel Jan Schoeman, geskryf en getoonset het.
Raadslid Sidney Koonthea en minister Anroux Marais knip die simboliese lint om die Mondelinge Geskiedenis-projek bekend te stel, met Vanessa Botha (programleier van die oggend) wat toekyk. Foto's: Wes-Kaapse departement sport en kultuursake
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'