KAROO NUUS - Die Sentraal- en Klein-Karoo is besig om weens die knellende droogte te verdor.
Op Prins Albert, bekend vir sy groen voorkoms en mooi versorgde tuine, het die greep van géén reën en buitengewoon hoë temperature 'n ernstige negatiewe invloed op dié toerismedorp.
Plantspesies in die veld buite die dorp sterf uit, wat die dierelewe en boerderyaktiwiteite (en werksgeleenthede) knou. Die dorp se leiwaterbeurte vir sommige inwoners, sowel as die toenemende sink van boorgate op woonerwe om tuine te probeer red, lei terselfdertyd tot frustrasie onder dié inwoners wat nie die voorreg het nie.
Prof. Sue Dean, natuurkundige van die Tierberg Karoo-navorsingsentrum in Prins Albert, sê in die veld het jaarplante al almal gesterf – so ook sowat 20% van die meerjarige struike en vetplante. Selfs plantspesies met 'n leeftyd van tussen honderd en tweehonderd jaar is besig om al hul blare te verloor en te sterf.
"Dis waarskynlik die ergste droogte nóg in die aangetekende geskiedenis van Suid-Afrika. Die vooruitsigte is nie goed nie, want dis deel van 'n globale verskynsel."
Volgens Dean het die verlies aan groenigheid 'n ernstige invloed op die dierelewe. "Daar is geen sappige, groen plante meer vir onder meer hase, skilpaaie, bokke en skape nie. Hulle het dors omdat die droë blare min water het. Sonder groen blare het ons baie min aktiewe insekte. Dit beteken dat voëls, akkedisse, meerkatte, jakkalse, slange en ander roofdiere min of geen kos het nie. Hul getalle neem af, omdat hulle wegtrek of doodgaan."
Die droogte se invloed op boerderyaktiwiteite is ernstig, sê sy, "weens verliese in lewende hawe en gewasse".
Dean het die gemiddelde reënvalsyfers van 1877 tot 2018 aan Oudtshoorn Courant verskaf. As daar net na dié syfer die afgelope ses jaar gekyk word, is die afname drasties. Waar dit in 2012 oor die 300 mm was, was dit in 2015 net minder as 200 mm en in 2018 net oor die 100 mm.
Dat daar in dié droogtetyd "frustrasie" onder sommige inwoners is oor leiwaterbeurte vir enkele inwoners en die toenemende sink van boorgate op dorpserwe deur dié wat dit kan bekostig, kan nie geïgnoreer word, nie, meen Dean.
"Die leiwaterstelsel in Prins Albert dateer uit die vroeë Europese vestiging hier. Al die water in die stelsel word afgekeer uit die Dorpsrivier aan die voet van die Swartberg. Aan die onderkant van die dorp is die rivierbedding al die afgelope vier jaar droog. Die leiwaterstelsel word besit en bestuur deur die Kweekvallei-waterverbruikersvereniging. Watertoekenning is histories aan sommige eiendomme gekoppel en kan nie gekoop of verkoop word nie – net verhuur word. Die munisipaliteit koop water by dié vereniging en in droogtetye verskaf die vereniging méér ure se water aan die munisipaliteit. Dit is so dat dié stelsel baie frustrasie en selfs jaloesie veroorsaak onder dié van ons wat eiendomme sonder waterregte of waterbeurte het."
Oor boorgate op woonerwe, sê Dean, dis baie moontlik dat "hoe meer boorgate gesink word, hoe minder is die wateropbrengs hieruit. Of hoe korter is die tyd dat hierdie bron sal standhou."
Volgens haar, "Bestaan daar egter min inligting oor grondwaterbronne in die Karoo. Baie ondergrondse water is fossielwater, wat beteken dit het miljoene of duisende jare gelede na ondergrondse rotsformasies gefiltreer in natter klimaatstye.
Selfs in die gewone reënvaltye is dit onwaarskynlik dat enige reën die grondwatertafel bereik. Boorgate 'myn' eintlik niks anders nie as die water van die vorige reënval. Dit beteken dat boorgate nie in die middel- of lang termyn volhoubaar is nie."
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'