Update
KLEIN KAROO NUUS - Die Covid-19-inperkingstyd het plattelandse ekonomieë ’n ernstige knou toegedien. Wie dra die verantwoordelikheid om dorpe weer op dreef te kry?
Marlene Malan het met ekonome hieroor gesels.
Die herstel van ’n dorp se ekonomie begin by die inwoners self. Elke entrepreneur, organisasie, kettinggroep, belastingbetaler en huisbewoner het ’n rol te speel, meen ekonome.
"Begin ’n ‘koop plaaslik’-veldtog,” sê prof. Danie Meyer, ’n ekonoom van die Noordwes-Universiteit. “Inwoners moet hul geld so ver moontlik binne hul dorp bestee, nuwe geld lok en toesien dat dié pogings gekoördineer word. Covid-19 het alle sektore beïnvloed en plaaslike ekonomiese ontwikkeling is net moontlik as die gemeenskap, plaaslike ondernemings en plaaslike bestuur hande vat. As één hiervan nie funksioneer nie, funksioneer niks. Dis ’n samewerkingsooreenkoms tussen die drie."
Hy benadruk ook dat 'n skoon omgewing mense en besigheid lok. "Vuil omgewings en swak dienste stoot investering weg. Inwoners moet op ’n georganiseerde wyse hul vuis bal, soos deur ’n sakekamer wat ondernemings verteenwoordig,"
Prof. Doreen Atkinson, trustee van die Karoo-ontwikkelingstigting, stem saam en lê veral klem op die rol van sakekamers. “Dorpe met sakekamers is baie meer paraat as dié daarsonder. Sakekamers is nie net vir besighede bedoel nie. Dit kan ook kwessies soos water, elektrisiteit en ander dienste aanspreek. Dit moet nie-rassig en apolities wees, dit moet uitreik na townships en moet goeie verhoudinge bou met alle regeringsinstansies, ook provinsiale departemente soos landbou en toerisme."
Volgens prof. Jannie Louw, tussentydse hoof van die Wits-sakeskool, speel toerismekantore net so 'n belangrike rol. “Is jou dorp ’n uiteindelike vakansiebestemming? Of net ’n oornagpunt op pad na een? Indien laasgenoemde, moedig vakansiegangers aan om twee nagte oor te slaap. Bied dan moontlikhede vir die dag tussen-in.”
Atkinson stem saam en meen toerismeverenigings moet nuut dink oor bemarkingsaksies. “Skep ’n vennootskap met ’n ander dorp of instansie, selfs oorsee, met dieselfde tema. Skep roetes deur jou streek wat besoekers kan ervaar.”
Louw sê dit is duidelik dat elke entrepreneur moet besef sý spesifieke geldmaakmanier is 'n bydrae tot die opbou van die platteland. “Diversifiseer waar nodig, spesialiseer in nisbedrywighede. Entrepreneurs moet behoeftes in hul omgewing ontleed en vasstel hoe nuwe dienste gelewer kan word, of bestaande dienste beter en vinniger lewer. Verskaffers moet gehoor gee aan plaaslike behoeftes en pryse aantreklik hou.”
Atkinson sê plattelanders móét verwagtinge hê van hul ekonomiese ontwikkeling, maar moet besef hulle kan nie net langs die kantlyn sit en toekyk nie. “Verwagtinge is nie genoeg nie. Jy moet aktief betrokke wees. As jy ’n brood op jou dorp koop, is jy deel van die ekonomie.”
Selfs die kleinste besigheid dra by tot 'n dorpie se ekonomiese herstel.
Inwoners kan tot toerisme bydra deur gastehuise op hulle dorp te bemark.
Ondersteun geleenthede op jou dorp wat deur organisasies soos byvoorbeeld Kansa aangebied word.
Ondersteun jou plaaslike restaurante.
Vorige artikel: Dorp se herstel begin by inwoners
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'