PRINS ALBERT NUUS - Die digter en vertaler Daniel Hugo van Prins Albert word vanjaar by die negende jaarlikse Tuin van Digters-fees op Wellington vereer.
Die fees is van 27 tot 29 November op Wellington, pleks van in September soos gewoonlik.
Dit word in samewerking met die Dagbreek Trust en NB-Uitgewers by die Breytenbach-sentrum hier aangebied, sowel as op sosialemediaplatforms. Dié sentrum was as kind die tuiste van die digter Breyten Breytenbach.
Hugo se 65ste verjaardag vroeër vanjaar word gevier, en die huldiging is ook om erkenning te gee aan sy bydrae tot die Afrikaanse literêre wêreld die afgelope 40 jaar as digter, vertaler, redakteur, keurder, taalkundige, akademikus en letterkundige meningsvormer.
Dit is die inisiatief van prof Yves T’Sjoen, literêre akademikus van die Universiteit van Gent, en die hooforganiseerder van die Tuin van Digters, Francois Lötter. Vorige digters wat al hier gehuldig is, is Breytenbach, Adam Small, Wilma Stockenström en TT Cloete.
Hugo se eerste digbundel, Saad uit die septer, het in 1989 verskyn, en hy werk tans aan sy 16de, voorlopig met die titel Klinkklaar. Hy is die samesteller van 12 bloemlesings, terwyl hy 59 publikasies uit Nederlands en 15 uit Engels in Afrikaans vertaal het. Hy het ook die boeke Halala Afrikaans en Vers en kapittel geskryf en ’n doktorsgraad verwerf met ’n proefskrif oor die vernufspoësie in Afrikaans.
Hy het verskeie toekennings vir joernalistieke en vertaalwerk ontvang, insluitende die SA Akademieprys vir die vertaling van Stefan Hertmans se roman Oorlog en terpentyn (2017), die Van Ewijck-stigting se prestasiebeurs vir die bevordering van kulturele betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika (2016), die Akademieprys vir die vertaling van Tom Lanoye se roman Sprakeloos (2015) en 10 ATKV-radiopryse.
Die fokus van Tuin van Digters val op Afrikaanse digters en gedigte se vertalings in en van Nederlands en Vlaams. Terselfdertyd sal onontdekte Afrikaanse digters blootstelling kry.
Hugo het gesê toe die Nederlandse digter Adriaan Roland Holst ook op ’n keer gehuldig is, hy spottend gesê het “hy voel vermenigvuldig tot ’n muis. Ek is hoogs in my skik met die eer wat die Tuin van Digters my aandoen. Nie soos ’n muis voel ek nie, maar soos ’n swerm muisvoëls in ’n koejawelboord vol ryp vrugte”.
Die tema van vanjaar se Tuin van Digters is grendels slotte sleutels, na aanleiding van ’n reël uit NP van Wyk Louw se Tristia.
Die program sal bepaal word deur die Covid-19-regulasies en sal bestaan uit aanbiedings by die sentrum sowel as virtuele/internet-aanbiedinge en stroming. Die finale program word begin Oktober aangekondig.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'