OUDTSHOORN NUUS - Konstruksiewerk aan die laaste 12 km van die Blossoms-noodwaterpyplyn het op 15 Augustus begin.
Tydens 'n spesiale raadsvergadering wat op Vrydag 19 Augustus plaasgevind het, het die raad eenparig die finale struikelblok uit die weg geruim en 'n toegangsooreenkoms met een van die grondeienaars gesluit. Dié kontrak is op 23 Augustus met dié eienaar onderteken.
Die ooreenkoms wat op 6 Julie deur die raad goedgekeur is en aan die grondeienaars voorgelê is, is deur hulle aanvaar, maar met 'n bykomende versoek om vergoeding vir die verlies aan inkomste terwyl werk op die grond gedoen word, te ontvang.
Die beraamde konstruksietydperk vir die werk in hierdie afdeling, gebaseer op die tenderaar se oorspronklike produksie tempo, sal oor 'n tydperk van 12 weke geskied, wat voorsiening maak vir die volgende:
- roetevoorbereiding
- die inbring van materiaal
- uitgrawing van pype
- die bou van strukture
- druktoetsing
- finale opruimingswerk en
- rehabilitasie.
Agtergrond oor dié projek
Die vorige raad van Oudtshoorn-munisipaliteit het in September 2018 eenparig besluit om die Blossoms-noodwaterpyplynprojek te implementeer, wat behels dat 'n noodpyplyn van Blossoms (Oudtshoorn-grondwaterprojek) na Oudtshoorn gelê word. Die Blossoms-boorgatwaterprojek is daarop gemik om die dorp se watervoorsiening te versterk en watersekerheid vir alle gemeenskappe in die streek te verseker.
Die huidige aanbod van die grond-waterbron is onvoldoende om aan dié vraag te voldoen, daarom is die vergroting van die bron uiters noodsaaklik. 'n Pyplyn van die nabygeleë Blossoms-grondwaterputveld sal die tekort verlig.
Volgens Aurelia Mle, munisipale woordvoerder is die verwagte tydperk vir die voltooiing van die Blossoms-noodwaterpyplynprojek vir Maart 2023 geskeduleer.
Vorige artikels:
- Blossoms-pyplyn vorder fluks
- Blossoms-boorgatprojek gaan voort
- Blossoms gaan R91 miljoen kos
- Blossomsprojek gaan voort
- Groenlig vir pypleiding
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'