OUDTSHOORN NUUS - Die Blossoms-noodwaterpypleiding vorder goed en die huidige fase waaraan tans gewerk word behoort Maart volgende jaar voltooi te wees.
'n 23 km-pypleiding sal vanaf Blossoms, buite Oudtshoorn, gelê word wat met die waternetwerk van die dorp verbind sal word.
Volgens 'n verklaring van die Garden Route-distriksmunisipaliteit kom finansiering vir die huidige fases van die projek, wat in Februarie 2022 begin is, van die munisipale ramphulptoelaag, wat altesaam R47 miljoen bewillig het.
"Tot op hede is meer as R150 miljoen bestee, wat deur die departement van water en sanitasie en die Oudtshoorn-munisipaliteit befonds is," lui die verklaring.
Dié projek is in 2001 begin om alternatiewe watervoorrade vir die Oudtshoorn-omgewing te ondersoek en te ontwikkel. Nege diep- en drie moniteringsboorgate is geboor, wat vir 13 jaar gemonitor en getoets is. Die toets is in 2014 voltooi en daar is tot die gevolgtrekking gekom dat die boorgate genoeg grondwater lewer om die watertoevoer vanaf die Raubenheimerdam aan te vul.
Met die wisselvallige reënval en die voortslepende droogte verkeer die Raubenheimerdam onder geweldige druk en word daar hard gewerk om die projek so gou as moontlik te finaliseer.
"Die toekomstige en deurlopende water-voorsiening in die Oudtshoorn-omgewing is erg ingeperk en drastiese maatreëls moes beplan word om die situasie dringend aan te spreek.
Verder word die Vermaaksrivier-boorgate naby Dysselsdorp tot maksimum kapasiteit gebruik en die Huisrivier, wat De Rust van water voorsien, is in die somermaande onbetroubaar wat negatiewe implikasies vir die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningstelsel inhou," lui die verklaring.
Die kruising by die staalbrug.
Die kontrakteurs werk hard om die pypleiding so gou as moontlik te voltooi.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'