OUDTSHOORN NUUS - Die multimiljoenrand Blossoms-boorgatprojek, wat waternood in die Groter Oudtshoorn-distrik moet verlig, is steeds aan die gang.
Volgens 'n verklaring wat die week deur die Oudtshoorn-munisipaliteit uitgereik is, behels die projek ondermeer 'n 23 km-pyplyn wat vanaf Blossoms na Oudtshoorn se waternetwerk aangelê moet word.
Volgens Chris Swart, waarnemende direkteur van tegniese dienste, is die dorp se huidige waterbronne steeds onder geweldig baie druk.
"Daar word bereken dat die drie boorgate in Blossoms die streek met ongeveer 5Ml/dag kan verskaf wat die helfte van die daaglikse waterverbruik onder die vlak 4-waterbeperkings is," het Swart gesê.
Volgens hom is die waterkwaliteit goed en kan die addisionele waterbronne na die landelike dele van die Groter Oudtshoorn uitgebrei word.
"Die Klein-Karoo Landelike Watervoorsieningsisteem van die Vermaaksrivier se boorgate naby Dysselsdorp is reeds tot die maksimum onttrek en die Huisrivier wat water aan De Rust voorsien is nie betroubaar in die somer nie."
Chris MacPherson, burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het gesê die nasionale departement van water en sanitasie het tot dusver R30 miljoen in die 2018/19 finansiële boekjaar beskikbaar gestel en die infrastruktuurtoelae van waterdienste het R20 miljoen in die 2019/20 finansiële boekjaar vir die Blossoms-projek beskikbaar gestel.
Lees meer in Donderdag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'