OUDTSHOORN NUUS - Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die week in 'n mediaverklaring gesê hy het na 'n onlangse besoek aan die streek besluit dat die Blossoms-projek moet voort gaan.
Die Oudtshoorn Courant het egter Desember verlede jaar reeds berig dat die raad reeds R30 miljoen vir droogteverligting van die nasionale tesourie ontvang het en dat die raad "eenparig besluit om voort te gaan met die Blossoms-waterprojek onderworpe aan goedkeuring van die Wes-Kaapse plaaslike regering vir 'n verdere R20 miljoen". Dit is deur die munisipale bestuurder, Allen Paulse, tydens 'n raadsvergadering op 6 Desember verlede jaar bekend gemaak. Hy het verder gesê dat hulle die groen lig gekry om die R30 miljoen vir Fase 1 van die projek, die opstel van die nodige planne, die betaling van professionele fooie en die aankoop van die nodige materiaal aan te wend.
Paulse het gesê die munisipaliteit het toestemming verkry om die R30 miljoen vir dié doel te gebruik hetsy die munisipaliteit die waarborg van 'n verdere R20 miljoen wat benodig word kan vind.
Bredell het die week in sy verklaring gesê die rede vir die Blossoms-projek is om nog 'n waterbron, behalwe vir Raubenheimerdam, vir die dorp te kry.
"Daar gaan 'n 22km-pyplyn en pompe van bestaande boorgate in die Blossoms-area na die bestaande waternetwerk van Oudtshoorn gelê word. Die waterbron is sterk genoeg om minstens die helfte van die dorp van water te voorsien. Die pyplyn sal ook aan die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema gekoppel word wat water aan die Kannaland-munisipaliteit voorsien."
Volgens hom word die projek in samewerking met die nasionale regering en die Oudtshoorn raad gedoen en kan die projek se kostes tot R91,2 miljoen beloop. Die eerste fase kos R50 miljoen.
Volgens Bredell sal daar addisionele fondse van die nasionale departement van water en sanitasie, die provinsiale regering en die plaaslike raad verkry word.
"Die projek sal ook meer watersekuriteit aan inwoners van Calitzdorp en Dysselsdorp bied. Ons hoop om die projek so gou moontlik te begin."
Die Oudtshoorn Courant het egter by verskeie bronne verneem dat die hoeveelheid water wat beskikbaar is nog nie presies bepaal kan word nie en dat daar sprake is dat die watertafel reeds gedaal het en drukking baie laer is.
Navrae is aan die munisipaliteit, sowel as Bredell se kantoor gerig, onder meer oor presies wanneer die projek begin het, hoeveel geld tot op datum aan die projek bestee is, hoe die R30 miljoen aangewend is of aangewend gaan word en presies wanneer die projek gaan begin en hoe lank dit gaan duur.
Geen antwoorde was teen druktyd ontvang nie.
Lees 'n vorige berig hier: Blossomsprojek gaan voort.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'