Smit het aan die Universiteit van Stellenbosch sy graad ontvang en het die afgelope sewe jaar op Oudtshoorn gepraktiseer. Hy is in 2013 met kanker gediagnoseer. Sy ingewande was deurtrek van kanker en dokters kon dus nie 'n operasie op hom uitvoer om die kanker uit te sny nie.
Gedurende Junie 2013 is hy oorsee vir behandeling. Sy goeie vriend, Kobus le Grange, het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat hy na sy terugkeer baie goed gevoel het. Die kanker het egter verlede jaar in November weer opgevlam.
"Hugo was 'n fantastiese mens wat altyd gelag het, selfs deur sy pyn," vertel Le Grange.
Le Grange vertel verder dat Smit aan hulle gesê het dat hulle nie hartseer moet wees as hy sterf nie, want "ek gaan na 'n beter plek, en julle moet nog daar kom".
Een van Smit se vriende, Jacques Roos, het die nuus op Facebook bekend gemaak met die woorde: "Hugo Smit, ons groot maat van Dagbreek, is vanmiddag oorlede. Baie hartseer. Sterkte aan Plonia en sy drie seuns. Rus in vrede, Hugo."
Smit laat sy vrou, Plonia en drie seuns, PJ (18), Joha (16) en Higgo (13), agter.
Sy gedenkdiens vind vandag om 10:30 van-uit die NG Moederkerk plaas.

Hugo Smit saam met sy vrou Plonia en drie seuns, PJ (18), Joha (16) en Higgo (13).Foto: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'