OUDTSHOORN NUUS - Atlete in Oudtshoorn kan voortaan by Maverick Athletic Club SWD aansluit, ’n klub wat daarop gemik is om hardlopers en ander atlete regoor die Suidwes-Distrik (SWD) bymekaar te bring.
Die klub het in George ontstaan, maar wil graag regoor die Tuinroete uitbrei.
Die klub beplan om, sodra genoeg plaaslike atlete aangesluit het, ’n georganiseerde oefengroep in Oudtshoorn te vestig.
Volgens George Smit, voorsitter van die klub, is Oudtshoornse atlete welkom om aan te sluit en voorlopig hul eie oefenprogramme in die dorp te volg. Smit sê die klub beoog om eers een gesamentlike oefensessie per week in Oudtshoorn aan te bied, met die moontlikheid om die program uit te brei namate die ledetal groei.
Elke groep sal self oefentye bepaal wat sy lede pas, maar sal steeds onder die klub se beheerliggaam, wat tans in George gesetel is, funksioneer.
Oefenprogram in George
Die klub bied tans verskeie oefengeleenthede in George aan.
Op Dinsdae om 05:30 vertrek ’n sosiale koffiehardloop van ongeveer 5 km vanaf Mugg & Bean in Courtenaystraat. Daar is ook gereeld ’n vroeë lopie van sowat 3 km om 05:00 vir dié wat ’n langer afstand wil aflê.
Woensdae om 17:30 kom lede by Ground Zero bymekaar vir ’n middaglopie van ongeveer 5 km, met verskillende tempo-opsies.
Donderdae om 05:30 begin ’n koffie- en oefenlopie van ongeveer 5 km by Plato Coffee in Courtenaystraat. Die oefensessies wissel en sluit soms heuwelwerk in.
Saterdae word vir langer afstande, roetedraf en deelname aan wedlope gebruik. Die afstande wissel gewoonlik tussen 10 en 20 km, met korter opsies vir dié wat dit verkies. Die begintyd, ontmoetingsplek en roete word weekliks bekend gemaak.
Lidmaatskap en koste
Die 2027-lisensiefooi beloop R350, met ’n eenmalige bykomende bedrag van R75 vir die tydskyfie (timing chip).
Lede moet ook ’n klubhardloophemp of T-hemp aankoop, wat tydens wedlope saam met ’n swart broek gedra moet word. Die klubklere se koste is nie by die lisensiefooi ingesluit nie.
Belangstellendes kan die klub se Facebook-blad, Maverick Athletic Club SWD, dophou vir verdere aankondigings. ’n Moontlike Swart Vrydag-aanbod kan ook die koste om aan te sluit, verlaag.
Kontak
Belangstellendes kan Smit per WhatsApp by 082 935 5608 kontak vir meer inligting of om by die klub aan te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’