OUDTSHOORN NUUS - Die ACVV-hoofkantoor in Kaapstad het by sy algemene jaarvergadering besluit om nuwe idees en inisiatiewe in te span om die organisasie se instellings op te knap.
Só het Project Renew by die ACVV Helen Bellingham-hof ontstaan.
Jan Henning, voorsitter, en dr. Michelle van Bommel, bestuurder van die tehuis, het besluit om by die gebou se vooraansig te begin en onder meer die kaal muur aan die voorkant op te kikker.
“Dit is toe dat ek genader is om die muur met ’n muurskildery te verfraai,” vertel kunstenaar Louise Henning.
Sy konsentreer hoofsaaklik op skilderkuns en haar werk sluit natuurtonele, wild, portrette en blomme in.
“Ek het ook al verskeie muurskilderye aangepak. Voordat ek my in Oudtshoorn gevestig het, het ek en Jan ’n kunsgalery in Nelspruit en Kaapsehoop bedryf,” sê sy. “Heelwat van die galery se skilderye pryk tans ook in Bellinganhof as deel van Project Renew. Michelle het ’n abstrakte, maar kleurvolle ontwerp vir die muur in gedagte gehad wat die karakter en beeld van die tehuis sou weerspieël.”
Ná verskeie ontwerpe en voorstelle is daar met die verfwerk begin. Die eerste bont kleurlae het die beskikbare personeellede so geesdriftig gemaak dat hulle sommer self hand bygesit het.
Die tema van die muurskildery is ‘Lewe!’. Dit is vrolik en energiek, met verskeie elemente wat die oog boei en die kyker telkens iets nuuts laat ontdek.

Die verskillende voorwerpe, onder meer boeke, huisies, blomme en musiek, verteenwoordig aspekte van die inwoners se leefwêreld.
’n Gesig wat as’t ware energie oor alles wat leef en beef uitblaas, vorm ook deel van die kleurvolle ontwerp.
Volgens Henning is die muurskildery se voltooiing in sig en behoort dit binne die volgende drie tot vier verfsessies afgehandel te wees.
“Wie weet watter nuwe verrassings Project Renew nog vir Bellinganhof inhou?”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’