OUDTSHOORN NUUS - Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het verlede week die reuseuitdagings wat die provinsie na die vloede in die gesig staar, uitgespel.
Ongeveer 50 sakelui en inwoners het Vrydag 19 Junie Winde se terugvoersessie by Cango Wildlife buite Oudtshoorn bygewoon.
Die premier het verskeie mense geleentheid gegun om eers hul vrae en kwessies te opper voordat hy gereageer het. Die sluiting van die R328 by De Kombuys as gevolg van 'n rotsstorting in Mei en die sluiting van Meiringspoort na die Mei-vloede was die fokus van al die kwelvrae.
Oudtshoorn-burgemeester, Mziwoxolo Tyatya, het die premier en die burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Marais Kruger, verwelkom en gesê dit word opreg waardeer dat die premier die gemeenskap se bekommernisse aanspreek. Hy het ook medelye uitgespreek met mense wat verliese aan eiendomme gely het met die ergste storm wat dié streek die afgelope 30 jaar ondervind het.
Nadat verskeie sprekers kwessies genoem het en vrae aan Winde gevra het, het hy gesê dat daar groot begrip is vir die benarde posisie waarin ondernemings en inwoners tans verkeer as gevolg van die sluiting van die twee hoofroetes.
"Dit wat julle hier genoem het, is regoor die provinsie in verskeie plekke 'n krisis, want die skade wat aangerig is, is onbeskryflik en beloop 'n reusagtige R9 miljard net in die Wes-Kaap."
Rampgebied
Hy het verwys na oproepe aan die staat om die Klein-Karoo tot rampgebied te verklaar, maar 'n somber prentjie geskets oor die nasionale regering se vermoë om te help aangesien die totale nasionale begroting vir rampe slegs R600 miljoen beloop vir die hele land.
"Die aankondiging van 'n ramptoestand beteken dus nie, daar gaan skielik geld van die regering af instroom nie. Ons moet geld in die provinsie se begroting rondskuif om die rampskade te herstel," het hy verduidelik.
Hy het die versekering gegee dat herstelwerk aan infrastruktuur streng geprioritiseer word. Daar is steeds dorpe wat afgesny is, omdat brûe of paaie heeltemal weg is. Daar is dele wat al langer as 'n maand sonder krag sit. Op 'n stadium was daar 400 paaie in die provinsie wat gesluit was, maar ons departemente werk dag en nag om hulle oop te kry."
Skoonmaak van riviere
Een van die versoeke wat aan Winde gerig was, was deur Johan Allers, raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit, wat gevra het dat die premier moet help dat toestemming deur omgewingsake gegee word sodat die Grobbelaarsrivier dringend verder skoongemaak kan word.
R328 na die Kango-grotte
Ten opsigte van die R328 na die Kango-grotte het hy gesê dat die opruiming goed vorder, maar dat daar versigtig gewerk moet word aangesien die gevaar bestaan dat twee dele nog kan instort as die los rotse verwyder word.
Meiringspoort en Swartbergpas
Oor Meiringspoort het Winde egter nie goeie nuus gehad nie. Volgens beraming sal die totale herstelwerk aan die poort ten minste 26 maande neem teen 'n beraamde koste van R421 miljoen. Dit beteken egter nie dat Meiringspoort vir 26 maande gesluit sal wees nie. Daar is reeds begin met die tydelike herstel aan dele van die poort en volgens Winde word daar hard gewerk om die poort tot so 'n mate te herstel dat verkeer kan begin vloei terwyl daar aan die poort gewerk word.
Kommunikasie
Die burgemeester van Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Marais Kruger, het die premier bedank vir sy betrokkenheid en dat hy nie bloot beloftes maak nie, maar eerlik en realisties is. Hy het verwys na klagtes wat uit die gehoor gekom het oor gebrekkige kommunikasie en gesê die onderskeie munisipaliteite in die Tuinroete dra 'n groot verantwoordelikheid om kommunikasie wat gereeld deur die provinsie en deur die distrik uitgestuur word, aan inwoners oor te dra.
LEES OOK
- Meiringspoort verlam ook Prins Albert
- Meiringspoort-vloed: Klein-Karoo se slagaar afgesny
- Meiringspoort-skade: R420 miljoen nodig vir herstel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’