OUDTSHOORN NUUS - Die bekende sportsielkundige en motiveringspreker, dr. Henning Gericke, was die gasspreker by die Oudtshoorn Besigheidskamer se jaarlikse gala-geleentheid.
Dit is verlede Donderdag, 5 November, by De Opstal buite Oudtshoorn aangebied, en gaste was dit eens dat Gericke se boodskap wat hy op ’n informele verteltrant aangebied het, uiters inspirerend was.
Gericke, wat gereeld nasionale sportspanne soos die Springbokke en Proteas vergesel en motiveer, het gesê dat sukses nie noodwendig die einddoel moet wees nie.
Vir hom lê die kern van motivering by die rede waarom mense iets doen. “As iemand weet wat die ‘waarom’ vir sy passie of sy besigheid is, vorm dit die basis om daardie persoon te motiveer,” het hy gesê voordat hy oor ’n hele aantal praktiese dinge gesels het wat vir sakelui van belang is.
“Ek moenie vra wat kan ek bereik nie, maar eerder wat kan ek doen om 'n ander se lewe te verryk.” Hy het ook gesê dat hy eers later in sy lewe besef het sy doel is nie om self groot suksesse te behaal nie, maar om ander mense te motiveer en te ondersteun.
Vir hom is drome belangrik, maar dit is nog belangriker om die klein oomblikke in elke dag te geniet en te waardeer. Volgens hom word drome gerealiseer deur die klein dingetjies wat elke dag vermag word.
Hy glo dat nie almal sukses op dieselfde vlak kan behaal nie. “As jy elke dag daarop fokus om net een persent beter te wees as die vorige keer, sal sukses vanself kom; dit is nie iets wat oornag plaasvind nie.”
Hy het verskeie voorbeelde genoem waar mense, veral sportlui, uiterste uitdagings hanteer deur kalm op te tree, uitdagings vanuit ’n ander hoek te beskou en te besef dat hulle beheer het tydens moeilike omstandighede.
Vir Gericke is dit noodsaaklik dat ’n mens die vermoë moet ontwikkel om na ’n nederlaag te kan opstaan, introspeksie te kan doen en doodeenvoudig net weer met nuwe ywer en nuwe insig voort te gaan.
Hy het ’n beroep op die gaste gedoen om dankbaar te wees oor selfs die kleinste dingetjies, en ligter te lewe. Hy het ook enkele grepe uit sy persoonlike lewe vertel as voorbeelde van uitdagings wat hy moes oorkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’