DE RUST NUUS - Die Wes-Kaapse minister van landbou en toerisme, Ivan Meyer, het Maandag 15 Junie De Rust en omliggende gebiede besoek om die omvang van die onlangse vloedskade op landbou, toerisme en infrastruktuur in die streek vas te stel.
Meyer het ook met plaaslike boere en verteenwoordigers van die toerismebedryf vergader om oor die uitdagings en geleenthede in die streek te besin.
Volgens Laubscher Coetzee van Agri Wes-Kaap was die minister se besoek betekenisvol en insiggewend.
"Die minister het hom eerstehands kom vergewis van die situasie waarin die streek hom tans bevind. Nie net toerisme in Oudtshoorn en De Rust ly onder die sluiting van Meiringspoort nie, maar landbou ook."
Hy verduidelik dat Meiringspoort as belangrike deurgang tussen die Groot- en Klein-Karoo dien.
"Dit beteken dat beide toeriste en boere van dié roete afhanklik is. Met die sluiting moet 'n ompad deur Willowmore gebruik word, wat daartoe lei dat besoekersgetalle in De Rust en Oudtshoorn daal en vervoerkoste vir boere styg."
Coetzee het egter bygevoeg dat boere in dié gebied relatief minder skade as in sekere ander dele van die Wes-Kaap ervaar het.
"Ons het jare se droogte agter die rug en tot onlangs was die Stompdriftdam op net 25%. Vandag loop dit oor en daar heers groot optimisme oor die volgende paar jaar. Daar is egter steeds skade in die landbougebied wat aandag verg."
Volgens Meyer het Meiringspoort uitgebreide skade en voorlopige beramings dui daarop dat herstelwerk aan beskadigde infrastruktuur sowat R420 miljoen kan beloop.
Amie Snyman (links) en Gerrit (Swepie) le Roux saam met minister Ivan Meyer by die Stompdriftdam. Foto: Verskaf
Verteenwoordigers van die Stompdrift-Kammanassie Watergebruikersvereniging het Meyer ook na die Stompdriftdam, wat tans oorloop, geneem en hom ingelig oor die omvang van die skade wat vloede aan landbou-infrastruktuur veroorsaak het.
"Die Groter Oudtshoorn-gebied het eers 'n uitmergelende sewe jaar lange droogte beleef, gevolg deur twee groot vloede in Mei en Junie wat aansienlike skade aan paaie, besproeiingstelsels en plaasinfrastruktuur veroorsaak het."
Boere het tydens die besoek die behoefte aan 'n omvattende haalbaarheidstudie beklemtoon om die langtermynvolhou-baarheid van infrastruktuur en waterbestuur in die streek te evalueer.
'n Hoogtepunt van die besoek was sy ontmoeting met die legendariese Gerrit (Swepie) le Roux van Domein Doornkraal tussen Oudtshoorn en De Rust.
Le Roux het hom meer vertel oor die geskiedenis van die Stompdriftdam en sy rol oor dekades in die streek se ontwikkeling.
"By oom Swepie se huis het ek ook die bekende Swepie-drankie geproe. Dit is 'n móét wanneer jy oom Swepie en sy dogter, Julia, besoek," het Meyer gesê.
Hy het bygevoeg dat hulle ware ambassadeurs van Oudtshoorn en die Klein-Karoo is.
Ten spyte van die uitdagings wat die vloede meegebring het, was Meyer bemoedig deur die optimisme onder plaaslike inwoners en entrepreneurs.
Hy het onder meer met Chrismari Terblanche, eienaar van The Ostrich Barons Palace gesels oor haar visie vir die uitbreiding van agritoerisme in die streek. Volgens hom bly boere positief oor die sektor se groeipotensiaal, ondanks die skade wat die vloede veroorsaak het.
"Toerisme en landbou bly die twee boustene van ekonomiese groei in die Groter Oudtshoorn-gebied," het hy gesê.
Meyer het ook een van die streek se jong boere, JH Terblanche, van die plaas Hazenjacht ontmoet. Terblanche, 'n gegradueerde van die Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut van die Wes-Kaapse regering, pas sy agronomiekennis op die familieplaas toe. Benewens tradisionele boerdery produseer hy uie- en wortelsaad vir die uitvoermark deur 'n saadproduksiemaatskappy in Oudtshoorn.
Meyer het sy waardering uitgespreek teenoor die gemeenskap van die Klein-Karoo. "Ek is opnuut beïndruk deur die vriendskap en gasvryheid van die mense wat in hierdie landelike boerderygemeenskappe woon."
Lees ook:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’