OUDTSHOORN NUUS - Jaydin Abrahams, 'n gr. 11-leerder aan Dysselsdorp Senior Sekondêr, het verlede naweek aan die Oudtshoorn Teksmark, wat by die Neelsie aangebied is, deelgeneem.
Die jong akteur en skrywer van Dysselsdorp bring met sy oorspronklike teaterteks, Wat maak tyd, 'n besonderse verhaal oor tyd, verlies, liefde en die mens se verhouding met die verlede na die verhoog.
Die teks kombineer elemente van wetenskapsfiksie, komedie en tragedie en vertel die verhaal van Dream, 'n jong uitvinder wat 'n tydmasjien bou in die hoop om iets uit sy verlede te verander.
Namate hy deur tyd beweeg, vervaag die grense tussen herinneringe, drome en werklikheid. Saam met Jay-J en sy ma moet Dream moeilike vrae oor vriendskap, verlies, skuld en liefde hanteer.
Die verhaal stel 'n eenvoudige maar diepgaande vraag: As ons die kans gehad het om tyd terug te draai, sou ons werklik iets verander?
Uiteindelik ondersoek die stuk hoe mense aan die verlede vasklou en leer om vorentoe te beweeg.
Jaydin is reeds by verskeie professionele en gemeenskapsteaterproduksies betrokke en het onder meer by die KKNK, Baxter-teater, Zabalaza-fees, Suidoosterfees en DCAS-dramafees opgetree.
Hy is passievol oor storievertelling en gebruik teater as medium om menslike emosies, ervarings en werklikhede te verken.
Hoewel hy steeds op skool is, ontwikkel hy reeds sy vaardighede as jong skrywer en kunstenaar. Wat maak tyd is een van sy belangrikste oorspronklike tekste.
Een van die treffendste gedagtes uit die werk lui: "Tyd beweeg aan, al staan harte soms stil, maar gee dit ook genoeg tyd en dit genees selfs die gebreekste harte."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’