OUDTSHOORN NUUS - Die polisie het die afgelope paar maande hul pogings verskerp om vermeende dwelmhandelaars in die Oudtshoorn-streek hok te slaan, met verskeie suksesvolle operasies wat reeds uitgevoer is.
Die jongste voorval het Vrydag 13 Desember plaasgevind toe ’n intelligensie gedrewe operasie tot die konfiskering van dwelms en die inhegtenisneming van twee verdagtes gelei het.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van misdaadintelligensie en die Attaqua K9-eenheid, as deel van die Veiliger Feesseisoen-operasie, opgetree nadat inligting ontvang is oor ’n Hyundai-voertuig wat glo ’n besending dwelms vir aflewering vervoer het.
Die mandrax-tablette wat gekonfiskeer is. Foto: SAPD
Die lede het hulself strategies ontplooi en die voertuig langs Voortrekkerweg in Oudtshoorn gewaar, waarna ’n jaagtog gevolg het.
“Die voertuig is uiteindelik tot stilstand gebring en ’n deursoeking het gelei tot die konfiskering van 100 Mandrax-tablette.
Twee mans, onderskeidelik 54 en 57 jaar oud, is op die toneel in hegtenis geneem. Die voertuig is ook deur die polisie gekonfiskeer.”
Spies sê beide verdagtes bly in polisie-aanhouding en sal vandag, Maandag 15 Desember, in die Oudtshoorn-landdroshof op aanklag van dwelmhandel verskyn.
Lees vorige berigte hier:
- Meer as R600 000 se dwelms in Oudtshoorn gevind
- Twee vas vir dwelms in Bridgton
- R260 000 se kokaïen en mandrax naby Ladismith gevind
- Polisie gryp in met veiliger feesseisoen-veldtogte
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’