OUDTSHOORN NUUS - ’n Opsporingsoperasie deur lede van die Wes-Kaapse Provinsiale Georganiseerde Misdaadondersoek eenheid, saam met Tuinroete-distrik-misdaadintelligensie, het Woensdag 26 November twee verdagtes suksesvol op aanklag van dwelmhandel gearresteer.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die span Woensdag omstreeks 06:00 ’n deursoekingslasbrief uitgevoer by ’n perseel in 11de Laan, Bridgton, Oudtshoorn.
“Tydens die operasie is twee mans, onderskeidelik 21 en 37 jaar oud, in hegtenis geneem. Dit volg ná verskeie voorafgaande operasies by dieselfde perseel wat gelei het tot die konfiskering van 100 gram tik en 300 Mandrax-tablette.”
Daar is ook op die Polo beslag gelê. Foto's: SAPD | Tik is gekonfiskeer. |
Die polisie het ook op ’n Volkswagen Polo TSi, wat vermoedelik tydens die uitvoering van die misdrywe gebruik is, beslag gelê.
Die verdagtes bly in aanhouding en sal na verwagting Vrydag 28 November hul eerste verskyning in die Oudtshoorn-landdroshof maak.
Spies sê hierdie arrestasies vorm deel van voortdurende pogings om dwelmhandelpunte te ontwrig en te sluit, en sodoende die verspreiding van onwettige middels in gemeenskappe te bekamp.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

