OUDTSHOORN NUUS - ’n Grootskaalse veldtog die afgelope naweek het gelei tot die konfiskering van onwettige drank in die Tuinroete- en Sentrale Karoo-distrikte. 860 liter drank is van persele verwyder en het ook tot die inhegtenisneming van verskeie verdagtes in onder andere Oudtshoorn, Dysselsdorp, De Rust en Ladismith gelei. Die operasies het vanaf Vrydag 14 November tot Sondag 16 November plaasgevind.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, was die fokus van die operasies om onwettige drankverkope aan te spreek, veral in gemeenskappe waar alkoholmisbruik tot geweldsmisdaad bydra.
“Die polisie sal voortgaan om onwettige drankbedrywighede vas te vat as deel van ons Veiliger Feesseisoen-veldtogte,” het Spies gesê.
Ingrypings in Oudtshoorn en Dysselsdorp
In Oudtshoorn is twee verdagtes, 33 en 47 jaar oud, in hegtenis geneem ná geheime operasies by persele in Mullerstraat en Du Toitstraat in Bridgton. Drank is by albei persele gekonfiskeer nadat eienaars nie geldige dranklisensies kon toon nie.
In Dysselsdorp het polisielede, gewapen met ’n lasbrief, op ’n perseel in Paradise View toegeslaan. Die operasie het tot die konfiskering van 40 Mandrax-tablette en 15 bankies tik gelei. Die verdagte sal binnekort in die hof verskyn.
Regsoortreders in De Rust en Ladismith uitgewys
Suksesvolle operasies is ook in De Rust en Ladismith uitgevoer, waar drank by onwettige verkoopspunte verwyder is, en verdagtes in hegtenis geneem is vir die verkoop van drank sonder ’n lisensie.
Dronkbestuur en dwelms
Benewens drankverwante ingrypings het padveiligheidsoperasies, in samewerking met die Wes-Kaapse provinsiale verkeer, gelei tot 23 arrestasies vir dronkbestuur, met die meeste in Knysna (8) en George (5).
In ’n afsonderlike operasie Woensdag 12 November, is gefokus op dwelmhandel in Oudtshoorn en Dysselsdorp.
In Dahlia Court, Bridgton, is ’n 33-jarige vrou gearresteer nadat 62 bankies tik, Mandrax, dagga en kontant op die perseel gevind is.
In Paradise View, Dysselsdorp, is groot hoeveelhede Mandrax en tik gekonfiskeer.
In George is ’n 53-jarige man in hegtenis geneem nadat dwelms in plastiekbottels onder die bogrond versteek gevind is.
Voortgesette fokus op veiligheid
Sers. Spies beklemtoon dat dwelm- en alkoholmisbruik steeds groot bydraers tot ernstige en gewelddadige misdaad in die streek is.
“Hierdie operasies is deel van ons voortdurende samewerking om onwettige drank- en dwelmverkope hok te slaan en veiligheid in gemeenskappe te verbeter,” het hy gesê.
Al die verdagtes sal in hul onderskeie howe verskyn sodra hulle formeel aangekla is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’