OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Samantha Meyer (24), wat aangekla word van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van alkohol ná die noodlottige motorongeluk waarin die jong onderwyser Peter-John ‘Pokkels’ Sauls gesterf het, is wéér uitgestel.
Die saak is in die Oudtshoorn-landdroshof tot 10 Junie uitgestel, aangesien die polisie se ongeluksverslag steeds uitstaande is.
Die tragiese voorval het op Vrydagaand, 8 November 2024, op die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat plaasgevind. Meyer se voertuig het met Sauls se Volkswagen Golf gebots.
Twee verbygangers het hom uit die brandende voertuig gehaal, maar hy is kort daarna op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Sauls was ’n geliefde onderwyser aan PJ Badenhorst Primêr in Dysselsdorp.
Meyer se regsverteenwoordiger, adv. Bulelani Bans, het die hof versoek om die saak voorlopig van die rol te verwyder weens die vertraging in die oordrag van dokumentasie deur die staat. Hy het aangevoer dat Meyer geregtig is op ’n spoedige verhoor en dat die uitgestelde proses haar benadeel, veral aangesien regskoste aanhou styg.
Meyer woon in Oudtshoorn en werk in George, en het nog nie een keer van die hof af weggebly nie.
Die staatsaanklaer, Leandrie Visagie, het teen die aansoek beswaar gemaak. Landdros Zuastrid Deyce het die aansoek van die hand gewys en gelas dat die saak uitgestel word om ondersoek in te stel na die rede vir die vertraging van die ongeluksverslag.
Meyer is uit op waarskuwing.
Vorige berigte
- Familie van PJ Sauls kwaad vir hof
- Samantha Meyer-saak vir streekhof uitgestel
- Gemeenskap in rou oor geliefde onnie
- Troosdiens vir ongelukslagoffer gehou
- Troosdiens vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’