OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van Francisco Erasmus van George, wat van moord op die 60-jarige Abraham Herandien van Bloupunt, Dysselsdorp, aangekla word, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof vir slotargumente tot 29 Mei uitgestel.
Erasmus was op parool uit toe hy vir die moord in hegtenis geneem is.
Die liggaam van Herandien is met veelvuldige steekwonde, op Dinsdag 21 Maart 2023, Menseregtedag, deur verkeersbeamptes in die motor van Erasmus op die De Rust-pad gevind.
Erasmus het aan die verkeersbeamptes gesê dat hy met ’n passasier op pad was na die hospitaal.
Die hof moes Vrydag 16 Mei twee keer verdaag word terwyl hy gesukkel het om op vrae van die landdros te antwoord en begin huil het.
Erasmus het na die kruisondervraging deur die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, erken dat hy oneerlik was deur valslik bankrekeninge op die name van Herandien en Christiaan Mei te open, maar volgehou dat hy Herandien nie gesteek het nie.
Hy het na sy getuienis die hof meegedeel dat hy nie getuies sal roep nie, en sy saak gesluit.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en Erasmus neem sy eie verdediging waar.
Vorige artikels:
- Vermeende moordenaar verdedig homself
- Borgtog geweier aan vermeende moordenaar
- Herandien-moordsaak vir borgtog uitgestel
- Moordsaak vir borgtog uitgestel
- 12 Steekwonde aan liggaam van oorledene
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’