OUDTSHOORN NUUS - Die vermeende moordenaar van 'n veewagter van Bloupunt, Dysselsdorp, bly agter tralies nadat borgtog aan hom in die Oudtshoorn-landdroshof geweier is.
Fransisco (Frank) Erasmus (47) van George word van moord op die 60-jarige Abraham Herandien aangekla wie se liggaam met verskeie steekwonde op Dinsdag 21 Maart deur verkeersbeamptes in Erasmus se motor gevind is.
Erasmus plaas die blaam vir Herandien se dood op die verkeersbeamptes wat hom gestop en verhoed het dat hy Herandien na die hospitaal neem.
Hy ontken ook dat die mes wat in sy motor gevind is aan hom behoort.
'n Huilende Erasmus het die hof om borgtog gevra omdat hy nie 'n vlugrisiko is nie en die staat nie 'n saak teen hom het nie. Volgens hom was hy 23 jaar gelede laas by misdaad betrokke en nie vir sy hofverskynings sal wegbly nie.
Oor die insident op die De Rust-pad het Erasmus getuig dat hy vir die verkeersbeamptes beduie het om hom na die hospitaal te begelei, maar hom toe van die pad afgetrek het toe hulle hom nie verstaan het nie.
Hy het ook ontken dat hy 'n begunstigde is in polisse van Herandien. Hy het die hof ook meegedeel dat hy 'n familieman is met 'n vrou en dogter en sy "hele lewe verwoes is as gevolg van sy aanhouding".
Hy het ook die ondersoekbeampte daarvan beskuldig dat hy onder eed leuens vertel in die hof.
Voorts het hy getuig dat wat met die oorledene gebeur het, nie in sy motor gebeur het nie.
Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het borgtog teengestaan omdat Erasmus, in die lig van sy vorige veroordelings, 'n geneigdheid toon om misdaad te pleeg en hy nie die hof oortuig het om borgtog te kry nie.
Hy was op parool en toon disrespek vir hofbevele.
Landdros Stephanie Strydom het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid is om borgtog aan Erasmus toe te staan nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'