OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Fransisco Erasmus (47) van George, wat van moord op 'n 60-jarige man van Bloupunt, Dysselsdorp, aangekla word, is Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof vir 'n formele borgtogaansoek tot 24 Mei uitgestel.
Hy was uit op parool toe hy in hegtenis geneem is vir die moord op Abraham Herandien.
Die liggaam van Herandien is met veelvuldige steekwonde, op Dinsdag 21 Maart, Menseregtedag, deur verkeersbeamptes in die motor van Erasmus op die De Rust-pad gevind.
Erasmus het aan die verkeersbeamptes gesê dat hy met 'n passasier op pad was na die hospitaal.
Hy het glo gereeld by die woning van die oorledene en sy vrou gekom en by tye ook vir hulle kos geneem. Hy het Herandien glo die betrokke oggend by sy huis opgelaai voordat hy vermoor is.
Erasmus het die hof Vrydag meegedeel dat hy onskuldig aangehou word en geregtig is om vrygelaat te word.
Landdros Stephanie Strydom het dit aan Erasmus gestel dat hy eers regsverteenwoor-diging moet kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’