OUDTSHOORN NUUS - Daar was altesaam twaalf steekwonde, waarvan sewe baie diep was, aan die liggaam van Abraham Herandien (62) van Bloupunt wat op 21 Maart 2023 by 'n padblokkade op die De Rust-pad in die voertuig van die beskuldigde gesterf het.
So het dr. Christa Hattingh, 'n spesialis forensiese patoloog, wat die nadoodse ondersoek op Herandien gedoen het, verlede week in die verhoor van Francisco Erasmus van George in die Oudtshoorn-streekhof getuig.
Erasmus (48), wat sy eie verdediging waarneem, word van die moord op Herandien aangekla en pleit onskuldig.
Hy het hofgangers laat regop sit toe hy aan Hattingh sê dat hy net van een steekwond weet en dit nie hy was wat dit toegedien het nie.
Volgens hom moet dit dan een van die verkeersbeamptes, Jean-Pierre Viviers, en die ambulansbestuurder, Alfonso Nel, wees wat die ander wonde toegedien het. Hulle was die eerste mense wat by Herandien was toe hy eenkant in 'n bakkie gesit het.
Erasmus se voertuig is die betrokke dag deur twee verkeersbeamptes, Jean-Pierre Viviers en Paul Stassen op die De-Rust opgemerk. Hulle het stilgehou omdat die registrasie van die voertuig onleesbaar was. Toe Erasmus uitklim was hy geklee in Moslemdrag met net sy oë sigbaar. Hy het hulle toe gevra om hom toe te laat om Herandien by die hospitaal te kry omdat hy beseer is. Viviers, het getuig dat Herandien hom hygend meegedeel het dat dit Erasmus is wat hom gesteek het.
Stassen het getuig dat Erasmus 'n fout maak as hy sê dat hy 'n vuurwapen gehad het omdat hy nooit 'n vuurwapen dra nie. Volgens hom het Erasmus teen 'n stadige spoed voor hulle gery terwyl hy heen en weer agter die stuurwiel beweeg het. Toe hy by die padblokkade uit die voertuig klim was hy papnat en het dit voorgekom asof hy besig was om iets in die voertuig af te was.
Adjudant-offisier Lazola Kweba, ‘n misdaadtoneelondersoeker, het getuig dat hy tydens sy ondersoek 'n mes sonder 'n hef onder die vloermatjie aan die passasierskant van Erasmus se voertuig gevind het.
Volgens Herandien se weduwee. Hester Herandien, is haar man die oggend van 21 Maart 2023 saam met iemand by die huis weg wat geklee was in 'n swart rok en 'n masker. Sy kon net sy oë sien. Kort daarna het sy die nuus gekry dat haar man dood is. Voorts het sy getuig dat sy en haar man Erasmus sedert 2020 ken en hy dikwels vir hulle kos en klere gebring het. Hulle het op 'n keer ook, op versoek van Erasmus, dokumente onderteken, maar sy nie weet waarvoor dit was nie.
Die ambulansbestuurder, Alfonso Nel, het getuig dat hy drie steekwonde aan die liggaam van Herandien gesien het toe hy die sitplekgordel losgemaak en die oorledene se hemp opgelig het. Hy het op 'n vraag van Erasmus geantwoord dat dit nie sy taak is om mense te ondersoek nie.
Die saak is verlede Donderdag, 17 Oktober, op versoek van die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, deur streeklanddros Ntsoki Moni tot 5 November uitgestel vir die getuienis van die laaste staatsgetuie. Erasmus bly in aanhouding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’