OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die 62-jarige Sandra Snyman, wat teregstaan op 42 aanklagte van bedrog, is Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof vir verdere ondersoek tot 26 Februarie 2025 uitgestel.
Snyman staan tereg op aanklagte wat met beleggingsbedrog verband hou. Sy het glo beleggers uit meer as R3 miljoen geswendel.
Sy is in November borgtog toegestaan.
Die staatsaanklaer, Danelle van der Westhuizen, het aanvanklik borgtog teengestaan.
Haar regsverteenwoordiger, Rasaad Goliath, het die hof egter vir ‘n korrektiewe verslag gevra omdat Snyman nie ‘n vlugrisiko is nie en oor ‘n vaste adres beskik.
Landdros Zuastrid Deyce het na die ontvangs van die korrektiewe verslag wat Snyman as ‘n kandidaat vir korrektiewe toesig bevind het, haar vrygelaat en gewaarsku dat sy tot die afhandeling van die saak in aanhouding sal bly indien sy enige van die korrektiewe toesigvoorwaardes verontagsaam.
Vorige artikels:
- Vrou op 42 aanklagte van bedrog vrygelaat
- Borgaansoek van vrou op klagtes van bedrog uitgestel
- 62-Jarige vrou voor op aanklag van bedrog
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’