OUDTSHOORN NUUS - 'n 62-jarige vrou van Oudtshoorn, Sandra Snyman, het Dinsdag 3 September in die Oudtshoorn-landdroshof vir 'n borgtogaansoek verskyn.
Sy is op 26 Augustus in hegtenis geneem.
Luidens die klagstaat staan sy op minstens 42 aanklagte wat met beleggingsbedrog verband hou tereg. Sy word daarvan aangekla dat sy na bewering onwettig, valslik en met die doel om te bedrieg onder meer aan beleggers voorgehou het dat:
• hul hoofbeleggings gewaarborg is,
• hulle nie die oorspronklike geld wat hulle belê het sal verloor nie
• dat hulle 'n maandelikse opbrengs van 10 % sal ontvang.
• Sy het die beleggers ook na bewering laat verstaan dat hulle hul geld aan die einde van die beleggingsperiode sal ontvang.
Luidens die klagstaat was die geld na bewering aan ander beleggers betaal of vir haarself gebruik. Die bedrag waaruit sy mense geswendel het beloop ongeveer R3 miljoen. Sy het Dinsdag by monde van haar prokureur, Rasaad Goliath, aangedui dat sy onskuldig gaan pleit en dat sy geen vorige veroordelings teen haar het nie. Volgens hom is daar 'n hangende saak in Mosselbaai teen haar wat sedert 2014 op die hofrol is.
Hy het verder aangevoer dat sy kliënt op borgtog vrygelaat moet word omdat sy nie 'n vlugrisiko is nie en nie met die ondersoek sal inmeng nie. Sy sal ook nie getuies intimideer nie en sal ook al die hofverskynings bywoon.
"Hoewel sy in Mosselbaai ook aangekla is, het sy al haar hofdatums bygewoon en al die voorwaardes nagekom."
Sy het aangedui dat sy R1 000 kan betaal, maar dat die hof self die bedrag kan bepaal en voorwaardes stel.
Konst. Marcello Temmies van Kaapstad is deel van die ondersoekspan wat die saak teen haar ondersoek en het Dinsdag borgtog teengestaan.
Volgens hom is sy definitief 'n vlugrisiko en het sy geen vaste bates wat haar in Oudtshoorn hou nie. Hy het ook aangevoer dat sy vir soortgelyke aanklagte in Mossel-baai voorkom en nie daarvan oortuig is dat sy nie gaan vlug nie, omdat sy familie in ander provinsies het. Daar is glo ook nog klagtes wat teen haar gelê gaan word.
Die borgtogaansoek is tot Vrydag 6 September uitgestel. Snyman bly tot dan in aanhouding.