OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van Sandra Snyman (62), wat van bedrog aangekla word, is in die Oudtshoorn-landdroshof vir argumente en 'n beslissing tot 1 Oktober uitgestel.
Snyman staan tereg op 42 aanklagte wat met beleggingsbedrog verband hou en die staat staan borgtog teen.
Die bedrag waaruit sy beleggers geswendel het beloop glo sowat R3 miljoen. Sy het reeds aangedui dat sy onskuldig gaan pleit wanneer die verhoor begin.
Die staatsaanklaer, Danelle van der Westhuizen, sowel as die ondersoekbeampte ao. November staan borgtog teen omdat Snyman 'n vlugrisiko is, en in alle waarskynlikheid sal voortgaan om misdaad te pleeg. Die meeste beleggers het sowat 90% van die geld wat hulle in Snyman se maatskappy belê het verloor.
Snyman se regsverteenwoordiger, Rasaad Goliath, voer egter aan dat Snyman nie 'n vlugrisiko is nie, en ook nie van die hof sal wegbly nie. Sy het familie in Oudtshoorn en beskik oor 'n vaste adres.
Volgens hom is talle sake teen haar voorheen teruggetrek of is sy onskuldig bevind. Daar is tans net een hangende saak teen haar wat in die Mosselbaai-streekhof dien en waarop sy op waarskuwing uit is.
Die aansoek dien voor landdros Zuastrid Deyce.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’