Daar is vooraf met groot afwagting uitgesien na 'n gesprek tussen Francois Smith, skrywer van die veelbesproke roman, Kamphoer en die bekende uitgewer, Frederik de Jager.
Smith se debuutroman, wat op 'n ware verhaal gebaseer is en vroeër vanjaar verskyn het, het reeds 'n vyfde druk beleef, dus 21 000 kopieë van die roman wat die lig gesien het. Dit is 'n besonderse prestasie vir 'n plaaslike skrywer.
Die roman word ook tans in Nederlands vertaal. Smith se eerste skryfpoging het gekom na hy self eers jare lank as redakteur by die redigering en herskryf van ander se boeke betrokke was. Die waardevolle kennis en ervaring wat hy op die manier kon opdoen, het die lus net verder laat brand om sy eie kreatiewe poging aan te pak.
Hoewel die roman op 'n ware verhaal gebaseer is, wou Smith eerder die kreatiewe moontlikhede van die historiese gegewe ondersoek, die verhaal wat in die vroulike hoofkarakter se kop afspeel eerder as die feitelikhede om so-doende, op 'n skrywerlike manier, die innerlike van die karakters, binne die historiese gegewe te ondersoek.
'n Gesprek getiteld, Verlore in Vertaling, het die behoefte aan vertaalde werke na en van Afrikaans belig. Dalk die land se mees gewilde skrywer, Deon Meyer, verkoop 600 000 kopieë van sy romans in Frankryk terwyl verkope in Suid-Afrika aan die 50 000 raak, danksy vertaling.
Kirby van der Merwe is die vertaler van Carol Campbell se gewilde My children have faces, in Afrikaans vertaal as Karretjiemense, 'n verhaal wat in Prins Albert afspeel. Campbell se tweede roman, Esther's House, deur Van der Merwe vertaal as 'n Huis vir Esther, speel in Oudts-hoorn af.
Prins Albert se Showroom Theatre was ook Saterdagaand uitverkoop vir die eerste eksklu-siewe vertoning van 'n nuwe Afrikaanse film, Die Ontwaking, met die bekende Gys de Villiers in die hoofrol.
Die naweek is Sondag afgesluit met 'n bespre-king oor die boek Bloody Lies, deur Thomas en Calvin Mollet. De Jager en Marlene Malan het die die skrywers uitgevra oor hul ondersoek na die Inge Lotz-moordsaak.

Die Engels- en Afrikaanse vertalings van Carol Campbell se
romans wat onderskeidelik in Prins Albert en Oudtshoorn afspeel.
Van links sit Francois Smith, Kirby van der Merwe, Daniël Hugo en Frederik de Jager tydens `n bespreking oor vertaling in die Jans Rautenbach Schouwburg.
ARTIKEL EN FOTO: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein-Karoo nuus'