OPINIE - "Dis die grootste klomp tjol wat ek al ooit 'n skeidsregter sien blaas het!"
"Ek wonder hoeveel geld hy gekry het, want dis duidelik hy is omgekoop!"
"Nee hel, mister ref, jy kort 'n vars oogtoets, niemand kan só blind wees nie!"
Dít is maar 'n paar van die beledigings en weggooi-sêgoed wat rugbyskeidsregters gereeld moet aanhoor. Dit maak nie saak watter kant van die ewenaar jy jouself bevind nie, die skeidsregter is altyd die maklike teiken.
Wie kan ooit die huidige Bokafrigter Rassie Erasmus, se skerp kritiek teen skeidsregters in 2022 vergeet waarvoor hy vir twee internasionale wedstryde geskors is? Na die tyd moes Erasmus om verskoning vra en erken dat skeidsregters groter respek verdien, maar ironies genoeg het die standaard van fluitjieblasers se beslissings daarna aansienlik verhoog.
'n Jong skeidsregter, 'n harde les
Die jongste geval waar skeidsregters op plaaslike vlak weer onder die vergrootglas gekom het was verlede week toe Bridgton-rugbyklub in Oudtshoorn met R100 000 beboet is (slegs R40 000 betaalbaar, die res opgeskort) as sanksie deur die SWD-rugbyunie nadat 'n jong skeidsregter op hul tuisveld by Die Plate glo aangeval is en ligte harsingskudding opgedoen het.
Beide spanne, Bridgton en Evergreens van George, het die skeidsregter probeer beskerm deur 'n menslike skild rondom hom te vorm, maar dit was nie die punt nie.
Iemand moes gestraf word en ongelukkig, omdat Bridgton die gasheer vir hierdie wedstryd was, moes hulle die spit afbyt.
Die straf het verdeelde menings ontlok - vir sommige was dit te lig, vir ander te straf. Wat ook al jou siening is, een ding is seker: iets het daardie dag gebreek.
Noodroep aan SWD-rugbyunie
In reaksie op hierdie sanksie het skeidsregters in die streek, met die goedkeuring van die SWD-skeidsregtersvereniging, besluit om met onmiddellike effek te staak - duidelik ontevrede oor die graad van die straf.
En wie kan hulle kwalik neem? Hoe verwag ons van enigiemand om 'n wedstryd te beheer terwyl hul veiligheid nie gewaarborg kan word nie?
Hierdie staking is nie 'n protes nie, dis 'n noodroep. Een wat slegs SWD-rugby kan beantwoord - en as pa van rugby in die streek, is dit tyd om pa te staan.
Vir te lank het daar 'n gevaarlike persepsie bestaan dat skeidsregters op amateurvlak "maar die punch moet kan vat".
Hulle moet dan juis gepamperlang word om kwaliteit so ver moontlik te verseker.
Te jonk vir hierdie tipe druk
Die primêre omstandighede wat gelei het tot hierdie fiasko is dat die betrokke skeidsregter glo nog nie eers sy 20ste verjaarsdag gevier het nie. Definitief veels te jonk vir 'n wedstryd van hierdie statuur as mens in ag neem dat beide spanne - voormalige Super A-ligakampioene - onder die topvier op die ranglys is.
Hoekom kon hy nie ten minste dan lynskeidsregter wees nie as die ander gesoute skeidsregter nie beskikbaar was nie? Hoekom is die poel van gekwalifiseerde en ervare skeidsregters so beperk om van te kies? Doen die SWD-rugbyunie genoeg om skeidsregters gereeld op te lei en voortdurend op te skerp volgens die jongste interpretasies van die spel? Want 'n swak opgeleide skeidsregter help niemand nie - nie die spanne nie, nie die toeskouers nie, en definitief nie homself nie.
Is dit dalk moontlik dat daar nie genoeg finansiële aansporing is nie? Maar dit kan mos nie wees nie! Suid-Afrika is dan die mees suksesvolle rugbyland in die wêreld met vier wêreldbekertitels!
Klubs moet ook verantwoordelikheid aanvaar
Die gasheer van 'n wedstryd sal ook moet hand in eie boesem steek en drank ontoelaatbaar maak by wedstryde, of die gebruik daarvan minstens beheer deur aan te dring op plastiekhouers of eie verkoopspunte beskikbaar te stel.
Veiligheidshekke moet ook ononder-handelbaar wees, want dis uiters gevaarlik as 'n ondersteuner doodluiters op 'n veld kan hol om kontak te maak met spelers of die skeidsregter, hetsy vir uitbundige feesvieringe of om handgemeen te raak.
Geen fluitjie, geen spel
Noudat daar geen wedstryde meer is nie, is dit nogal bra vervelig en mis mens die skeidsregters, né - met hul foute en al.
Ewe skielik is daar geen geel of rooi kaarte nie. Net leë velde en woedende WhatsApp-groepe en hopelik 'n bietjie selfondersoek.
Selfs in ons alledaagse lewe mis mens "skeidsregters" as hulle die dag nie meer daar is nie, hetsy dit jou ouers is, gesin, werksplek, organisasie of selfs net 'n goeie klankbord om ons innerlike hunkering na regverdigheid te voed.
Iemand wat dapper genoeg is om reëls te implementeer en grense te stel.
Die vraag is: Hoe behandel ons hulle op en van die veld?
Miskien is dit tyd dat ons almal ophou kyk na die fluitjie, en eerder luister na wat dit sê.
En op hierdie oomblik sê dit duidelik: "Genoeg is Genoeg!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’