OUDTSHOORN NUUS - Uit die landelike distrik Gamka-Wes het 'n inspirerende suksesverhaal na vore gekom.
Johannes Jacobs, gebore op 7 April 1982 in Calitzdorp, is op 27 Augustus aangewys as Landbouwerker van die Jaar 2025, 'n prestasie wat sy lewenspad van nederige begin tot erkende boer bekroon.
Jacobs se pa is oorlede toe hy net ses maande oud was. As baba het hy die bynaam 'Pa se Balletjies' gekry, wat sy familie steeds as kosbare herinnering koester. "Ek het eers in st. 3 uitgevind my volle naam is Johannes Jacobs," vertel hy.
"Vir my was ek net 'Bal', en dis hoe ek myself aan ander voorgestel het."
Sy liefde vir die landbou het reeds op sesjarige ouderdom ontkiem. Onder die leiding van sy oom en later sy grootouers het hy die verantwoordelikheid gekry vir diere, van varke tot boerbokke. "Ek het geleer dat jy hard moet werk vir dit wat jy wil hê."
Sy eerste belonings, 'n beker koue melk en 'n R1 op Vrydae het vir hom groot betekenis gehad.
Jacobs het sy skoolloopbaan begin by Gamka-Oos Primêr, later voortgesit by Excelsior Primêr en in 2000 gematrikuleer aan Hoërskool Calitzdorp. Buiten vir sy passie vir sport, veral krieket, het boerdery altyd sy droom gebly.
Op die plaas Welgerus van Kwessie Boerdery, waar hy grootgeword het onder die sorg van Freek en Louis Fourie, is hy nie net in die praktyk van boerdery onderrig nie, maar ook in die waardes van respek en verantwoordelikheid. "Hulle het my soos hul eie seun behandel," vertel hy.
'n Belangrike keerpunt in sy loopbaan het in 2017 gekom toe hy vir Piet Schoeman ontmoet het.
"Ek het altyd aan myself getwyfel, maar mnr. Schoeman het my vertroue gegee en my deel van sy bestuurspan gemaak. Hy het my verantwoordelikheid vir sy volstruisafdeling toevertrou, dit het my lewe verander," sê Jacobs.
Vandag beskryf hy Schoeman as 'n mentor en rolmodel: iemand wat hom dissipline, regverdigheid en deursettingsvermoë geleer het. "Hy het my laat verstaan dat jou woord jou eer is."
Jacobs is getroud met Joyce en die pa van twee seuns van 11 en 13. Hy beskou sy kollegas as 'n daaglikse bron van inspirasie en sy familie as sy anker. "Ek glo dat landbou net so suksesvol kan wees soos enige ander beroep, mits jy hard werk, jou beroep respekteer en bereid is om te leer."
In dankbaarheid sluit hy af: "Baie dankie aan landbou, want dit is waar ek my passie uitleef. Hier kan ek liefde, geduld en omgee praktiseer en 'n verskil maak.
"Ek is dankbaar vir Piet Schoeman, Freek en Louis Fourie, JP Schoeman en Gamka Boerderye wat vir mense soos ek die kans gee om te groei."
Fotogalery: Klein Karoo Agri Prestige toekennings gee erkenning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’