OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Randstraat in Oudtshoorn-Noord het die week wéér hul kommer uitgespreek oor die gevaar vir motoriste by die kruising van Rand- en Kerkstraat.
Die afgelope twee weke was daar twee botsings op hierdie kruising. Jay-Dee Klue het op 19 Augustus verongeluk toe 'n vragmotor na bewering 'n stopstraat in Randstraat verontagsaam het en met sy motorfiets gebots het.
Sondagmiddag, 31 Augustus, het 'n taxi 'n kragpaal by dieselfde kruising getref, gelukkig is niemand beseer nie.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die voorval bevestig.
"'n 22 jarige man is in hegtenis geneem na die ongeluk op die hoek van Kerk- en Randstraat op Sondag 31 Augustus om 16:50.
Volgens inligting beskikbaar is Oudtshoorn-polisie na die toneel ontbied. Die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem vir die bestuur van 'n voertuig onder die invloed van drank. Hy sal in die hof op die aanklag verskyn."
Munisipaliteit reageer
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit dra die munisipaliteit kennis van inwoners se bekommernis.
"Heelwat inwoners het gevra vir 'n vierrigtingstop op die hoek van Rand- en Kerkstraat. Inwoners moet kennis dra dat Kerkstraat 'n klas 4-pad is wat 'n noodsaaklike interseksie is met heelwat verkeer en toegang bied tot die sentrale sakegebied.
Randstraat is 'n klas 5-pad wat grootliks gebruik word vir toegang tot huise in die woongebied. Hierdie klassifikasies bepaal watter kontrole metodes in plek gesit kan word met straatverkeer wat voorkeur geniet."
Mle verduidelik verder dat in die geval van die spesifieke kruising is daar 'n potensiële visuele obstruksie in Kerkstraat as gevolg van 'n draai kort voor die aansluiting met Randstraat. Dit verminder die tyd waarin bestuurders gevaar kan waarneem of besluite kan neem.
Die volgende ontwerpriglyne is van toepassing volgens nasionale standaarde:
Stop sigafstand (SSA):
By 'n spoed van 60 km/h moet 'n voertuig 70 m se sig hê om veilig tot stilstand te kom.
Verbysteek sigafstand (VSA):
Dit is nie gewoonlik van toepassing in stedelike gebiede nie, maar dit beklemtoon die belangrikheid van lang, onbelemmerde sig.
Besluit sigafstand (BSA):
'n Hoër standaard (tussen 130 en 190 m) wat voorsiening maak vir vinnige besluite waar daar draaie of voetgangers is. Die huidige sigbaarheid vanaf Randstraat voldoen moontlik nie aan hierdie riglyne nie, wat die risiko van botsings verhoog.
Rakende bestaande kruisingbeheer noem Mle dat die huidige kruising 'n tweerigtingstop het, waar slegs voertuie vanaf Randstraat moet stop.
"Kerkstraat is tans vryvloeiend. Hierdie tipe beheer is algemeen, maar funksioneer die beste waar sigbaarheid goed is, wat moontlik nie hier die geval is nie. By soortgelyke liggings, soos die kruisings van Condor- en St Saviourstraat, is vierrigtingstopstrate met goeie resultate geïmplementeer om veiligheid te verbeter."
Ten slotte noem Mle dat gemeenskaps-insette noodsaaklik is vir volhoubare besluitneming.
"Daarom sal 'n openbare deelnameproses gebruik word in plaas van duur verkeerstudies. Inwoners sal uitgenooi word om skriftelike versoeke, menings of petisies in te dien. Indien daar voldoende ondersteuning is, sal hierdie voorstelle aan die munisipale-verkeersforum voorgelê word. By goedkeuring sal implementering plaasvind, met toepaslike verkeerstekens.
Gegewe die sigbaarheidsbeperkings, padklassifikasies, verkeerspoed en ongeluksrisiko, is daar duidelike redes waarom 'n vierrigtingstop oorweeg kan word in ooreenstemming met wetlike en tegniese raamwerke.
Die munisipaliteit is verbind tot samewerking met inwoners oor padveiligheid, nie net deur te reageer op voorvalle nie, maar deur gemeenskapsbetrokkenheid en verantwoordelike besluitneming."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’