OUDTSHOORN NUUS - 'n 77-jarige vrou van Oudtshoorn leef in vrees na sy verlede Woensdagaand, 20 Augustus, wreed aangeval is in 'n huis wat sy opgepas het.
Volgens die vrou, wie se huis die 77-jarige opgepas het, verkies hulle om nie hul identiteit of die area waarin die aanval gebeur het bekend te maak nie uit vrees vir hulle lewens.
Die aanval het ongeveer 20:00 Woensdagaand gebeur.
Die eienaar van die huis sê sy was uitstedig toe die voorval gebeur het en haar vriendin het haar huis opgepas.
"Sy is gelukkig om te leef. Sy ken nie die man nie. Hy het toegang tot die huis gekry en haar met 'n tuinvurk aangerand. Sy is in die nek gesteek, en het rugbeserings opgedoen. Hy het haar ook verskeie kere geslaan - haar gesig is nog steeds opgeswel en potblou. Sy is vir dood agter gelaat."
Die vrou is steeds in die hospitaal.
Die huiseienaar vertel dat haar vriendin, ten spyte van haar ernstige beserings, by die erf se hek uitgekruip het.
"'n Buurvrou het haar raakgesien en sy het hulp ontbied. Toe ek van Kaapstad af by my huis aankom, was ek geskok om al die bloed te sien.
Hy het haar regtig baie seergemaak en wou haar klaarblyklik doodmaak."
Die huiseienaar het gesê sy wil ander inwoners waarsku, veral bejaardes wat alleen woon, om waaksaam en versigtig te wees.
"Wees bedag op vreemde mense wat in woonbuurte rondbeweeg."
Polisie reageer
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het by navraag geantwoord dat Oudtshoorn-speurders 'n saak van poging tot moord ondersoek na die insident op 20 Augustus.
"Die dame het ernstige beserings opgedoen en is hospitaal toe geneem vir behandeling. 'n 53-jarige man is gearresteer en het Maandag 25 Augustus in die Oudtshoorn-landdroshof op aanklag van poging tot moord verskyn."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’