Update
ZOAR NUUS - Die uitspraak in die hofsaak teen Nicholas Herschelle Nyl, die bestuurder wat die 22-jarige Lee-Gail Standaar-Jelander op 7 Julie 2024 in 'n noodlottige tref-en-trap in Hoofstraat, Zoar doodgery het, het Donderdag skok en teleurstelling onder hofgangers en die gemeenskap ontlok.
Die Ladismith-landdroshof was verlede Vrydag, 22 Augustus, vol ondersteuners van die Jelander-familie, waarvan talle wit T-hemde met die slagoffer se foto op gedra het.
Nyl het op vier aanklagte tereggestaan: strafbare manslag, dronkbestuur, versuim om by 'n ongelukstoneel stil te hou, en versuim om die ongeluk aan te meld.
Hoewel hy kort na die voorval op 27 Augustus 2024 in die hof verskyn het, is die saak later weer op die hofrol geplaas danksy toegewyde speurwerk deur speurder Nicolette Pheiffer en die volharding van staatsaanklaer Anzelle Laubscher.
In sy verklaring, voorgelees in die hof, beweer Nyl dat hy aanvanklik gedink het hy het 'n dier getref. Toe hy later wou terugkeer na die toneel en die polisie se blou ligte sien, het hy weggedraai en hom eers later aan die polisie in Ladismith oorgegee.
'n Gebroke Abigail Standaar-Jelander, moeder van die oorledene, het buite die hof gesê: "Hy het haar gestamp, sy het vasgesit, en hy het aangehou ry. Ek verstaan nie hoe 'n mens nié kan agterkom iets is fout nie."
Abigail Jelander, moeder van die oorledene en haar vriendin, Gillian Albertus, verlede jaar by die hof. Foto: Deon Meyer
Nyl is uiteindelik tot 12 maande direkte gevangenisstraf vir strafbare manslag gevonnis. Die dronkbestuurklag is teruggetrek weens 'n gebrek aan bewyse.
Vir die klagte van versuim om stil te hou en om die ongeluk aan te meld, is hy beboet met R3 000 of ses maande gevangenisstraf.
Die ligte vonnis het onmiddellike reaksie van die publiek ontlok. Familie en vriende van Jelander het hul frustrasie uitgespreek.
Die uitspraak het reeds gesprekke in die breër gemeenskap aangewakker oor gepaste strawwe in soortgelyke sake, met baie wat voel dat die hof 'n sterker boodskap moes uitstuur oor verantwoordelikheid op die pad.
"Ten minste is hy nie weer saam met my by die hof se deure uit nie, hy ís tronk toe," het Jelander se ma gesê.
Lees vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’