OUDTSHOORN NUUS - Die 18-jarige Olivia Olifant, wat van die onsinnige moord op Gerald Hoogaard (27) op Saterdag 30 Augustus aangekla word, verskyn weer op 8 September in die Oudtshoorn-landdroshof. Sy het Maandag haar eerste hofverskyning gehad.
Die voorval het op die hoek van Unie- en Adderleystraat plaasgevind.
Conrad Meyer, Gerald se pa, sê hy was by 'n begrafnis toe hy die nuus gekry het.
"Ek was so geskok. Ek staan by 'n begrafnis toe iemand my laat weet my seun is oorlede. Toe ek daar kom was hy reeds dood. My vrou, Natasha, was ook in die dorp want sy gaan elke Saterdag. Op daardie stadium was sy per toeval in daardie omgewing. Iemand het haar kom haal en haar vertel dis Gerard wat daar lê."
Volgens hom het sy seun ongeveer 'n uur daar gelê voor hy gehelp is.
Meyer sê die verdagte is nie Gerald se meisie nie.
"Gerald was saam met haar en 'n ander man in die dorp. Hy en die ander man het 'n woordewisseling in 'n winkel by die taxistaanplek gehad. Gerald het glo omgedraai en geloop, maar sy het hom agternagesit en hom gesteek."
Meyer vertel sy vrou is in 'n toestand oor haar seun se dood.
"Gerald was nie 'n moeilikheidmaker nie. Hy het dan weggestap van dié baklei af. Hoekom sou sy hom agternasit?"
Wyle Gerald Hoogaard . Foto: Facebook
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die polisie na die toneel ontbied nadat 'n man daar ineengestort het.
"Met hul aankoms het hulle die slagoffer met 'n steekwond aan die nek gevind, vermoedelik met 'n skerp voorwerp toegedien. Paramedici het hom later op die toneel dood verklaar," het Spies gesê. Verdere ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van die 18-jarige verdagte.
Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC), 'n gemeenskapsorganisasie gelei deur Leon Campher, het Woensdag 3 September om 15:00 'n kranslegging vir familie en vriende by die moordtoneel gehou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’