OUDTSHOORN NUUS - Vyftig jaar ná hul matriekjaar het 25 oudleerlinge van Hoërskool Oudtshoorn (Struisies) die naweek van 22 Augustus saamgetrek vir hul goue reünie.
Die groep, waarvan baie saam met hul gades opgedaag het, het van oor die land gekom, van Gauteng tot KwaZulu-Natal en die Vrystaat - om die spesiale mylpaal te vier.
Vrydagaand is die saamtrek afgeskop met ’n informele hamburgerete in die Georgië-klubhuis, vernoem na hul eertydse skoolhoof, George van Rensburg. Vir sommige was dit die eerste ontmoeting in ’n halfeeu, en daar is tot laat gekuier.
Die huidige skoolhoof, Gerrit Rudolph, het die groep verwelkom en hul gees van samehorigheid geloof. Ook oudonderwysers Tinie Olivier, Wilma Koegelenberg en Pierre Hauman was teenwoordig. Voor ete is ’n kersseremonie gehou ter nagedagtenis aan agt afgestorwe klasmaats.
Saterdagoggend het almal by Smitswinkel ontbyt geniet, waarna van die groep besoek afgelê het by geliefde oudonderwyser Koos Carstens, asook hul voormalige onderhoofseun, Danie Schoeman.
Die hoogtepunt van die naweek was Saterdagaand se feesmaal by The Black Swan Restaurant. Die Springbokke se oorwinning oor Australië het die feestelikheid net meer opgekikker.
Die hoofmeisie van 1975, Marieta van Wyk (geb. Badenhorst), het in haar boodskap beklemtoon dat almal bevoorreg is om ná 50 jaar steeds saam herinneringe te kan deel.
Sondag is die reünie afgesluit met die bywoning van die oggenddiens by die NG Moedergemeente. In ’n mooi toeval het die Hoër Handelskool se matriekklas van 1970 dieselfde diens bygewoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’