OUDTSHOORN NUUS - Vier tennisspelers van Langenhoven Gimnasium het die afgelope naweek aan die Ruben Bezuidenhout-bekertoernooi in Cradock deelgeneem, waar die beste jong spelers uit verskeie distrikte meegeding het.
Franco Nel van Rensburg en Nikita Stander het in die o. 15-afdeling deelgeneem, terwyl Tameré Stewart en Littie de Waal deel was van die o. 19-span.
Die toernooi, wat van 2 tot 4 Oktober plaasgevind het, was 'n inter-distriks-kompetisie waaraan spanne van Eden, die Noord-Kaap, die Oos-Kaapse Aloes en die Oos-Kaapse Elephants deelgeneem het.
Die top ses seuns en meisies in elke ouderdomsgroep is vir die onderskeie spanne gekies.
Franco Nel van Rensburg en Nikita Stander. Foto: Verskaf
Eden se o. 15- en o. 19-spanne het albei as algehele wenners van die toernooi uit die stryd getree.
Franco het besonder goed gevaar en slegs een van sy gemengde dubbelspelwedstryde verloor. Hy het sy ander enkelspel- en dubbelspelwedstryde onoorwonne afgesluit.
Die Ruben Bezuidenhout-bekertoernooi word jaarliks ter nagedagtenis aan Ruben Bezuidenhout aangebied, 'n voormalige Eden-juniorspeler wat verlede jaar oorlede is. Eden borg die trofeë vir die toernooi.
Die Eden o.15-span. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’