OUDTSHOORN NUUS - Die lewe van die 17-jarige Sharuney Harvey is Saterdag 3 Oktober kort-geknip toe sy na bewering in die Kliplokasie by Volmoed vermoor is. Dit is die 16de moord in Oudtshoorn sedert die begin van die jaar.
Die polisie is omstreeks 21:40 na 'n woning ontbied, waar Sharuney met ernstige kopbeserings op 'n bed aangetref is.
Volgens AO Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is sy deur paramedici op die toneel dood verklaar.
"'n 26-jarige man is in verband met die moord in hegtenis geneem. Hy sal in die hof verskyn sodra hy formeel aangekla is. Die omstandighede rondom Harvey se dood is nog nie bekend nie, en die polisie se ondersoek duur voort. Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om die polisie te kontak," het Spies gesê.
Oudtshoorn Community Against Crime het Woensdag 7 Oktober 'n kranslegging vir Sharuney by die Kliplokasie gehou ter ondersteuning van die familie.
Die koerant se pogings om Sharuney se familie te kontak was onsuksesvol.
Teen die ter perse gaan was die begrafnisreëlings nog nie bekend nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’