OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se eerste bruin landdros, adv. Daniel Boks, het Woensdag 30 September die tuig ná 28 jaar op die regbank neergelê.
Boks is tydens 'n afskeidsgeselligheid wat verlede Donderdagaand deur personeellede van die Oudtshoorn-landdroshof by Route 62 gereël is, gegroet.
"Ek was so lief vir die werk wat ek gedoen het dat ek my gesin afgeskeep het. Maar ek sal nou daarvoor opmaak," het Boks gesê.
Die geleentheid is onder meer deur speurders van die Oudtshoorn-polisie, staatsaanklaers, tolke en prokureurs wat in Boks se hof opgetree het, bygewoon.
Verskeie sprekers het Boks bedank vir die respek waarmee hy almal behandel het, asook vir die feit dat sy kantoordeur altyd oop was.
AO Wanita Uys het Boks namens die speurders bedank vir die besondere samewerking wat daar tussen hom en die polisie was. Sy het hom ook bedank vir die talle swaar vonnisse wat hy aan veroordeeldes opgelê het en wat daartoe bygedra het dat gevaarlike misdadigers uit die gemeenskap verwyder is.
Oudstreeklanddros Neels Nortje het Boks in 'n teksboodskap beskryf as die beste kollega waarvoor hy ooit kon vra.
Brian Carelse, wat 17 jaar lank as regshulpprokureur in die G-hof opgetree het, het Boks ook bedank en opgemerk dat hy nie kon onthou dat Boks ooit afwesig was weens siekte nie.
Volgens prokureur Zak Lipschitz verloor die Oudtshoorn-landdroshof 'n legende met "geweldige regskennis".
Adv. Michelle Weyers het Boks namens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bedank vir sy jare lange diens en hoë standaard as landdros.
Boks het in sy afskeidstoespraak erken dat sy loopbaan nie altyd maklik was nie. Daar was volgens hom 'n tyd toe sy lewe, asook dié van staatsaanklaers, in gevaar was en hulle beskerming moes kry.
"Daar was 'n tyd dat ek nie my huis kon verlaat nie. Ek kon nie kerk toe gaan nie en ek dank die Here dat Hy my ook deur dié moeilike tyd geneem het."
Boks het gesê hy was gedurende sy diensjare vasbeslote om nooit 'n skuldige persoon onskuldig of 'n onskuldige persoon skuldig te bevind nie.
Hy het ook sy twee aanklaers, Nadia Arnolds en Elaine Plaatjies, geloof en hulle as van die beste beskryf.
Boks het in 1994, ná sy studies aan die Universiteite van Wes-Kaapland en die Vrystaat, sy loopbaan as staatsaanklaer op Carnarvon begin.
Ná ses jaar het hy bedank en as advokaat sy eie praktyk begin, maar kort daarna 'n pos as landdros in Johannesburg aanvaar.
Hy het daarna vir 'n oorplasing na Oudtshoorn aansoek gedoen en in 1999 as die dorp se eerste bruin landdros begin werk.
Twee jaar later is hy tot die streekhof bevorder en in 2004 permanent as streekhoflanddros aangestel.
Ná 28 jaar op die bank het Boks nou sy toga neergelê en is hy gereed om meer tyd aan sy gesin te wy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’